Toenemende Dwalings Deur Hoëprofielleiers

Toenemende Dwalings Deur Hoëprofielleiers

Opsomming: Gerespekteerde geestelike leiers in Amerika, bv. dr. Robert Schuller, dr. Billy Graham en Norman Vincent Peale, wys tans die weg aan na misleiding.

Daar is in ons tyd ‘n toenemende aantal valse profete in die “Christen” wêreld. Sommige van hulle verkondig van die begin af hulle valshede om die mensdom te mislei. Ander is voormalige Christenleiers wat geestelik verval het en in ‘n stadium dwalings begin verkondig het. Vier van die dwalings wat baie van hulle in gemeen het, is die volgende:

Afwatering of verswyging van die sentrale evangelieboodskap. Die duidelike eis van wedergeboorte, gebaseer op die kruisdood van die Here Jesus wat versoening vir ons sonde gedoen het, word nie meer suiwer en uitdruklik verkondig nie. Die gevolg is dat ruimte geskep word vir doopsaligheid, goeie werke en ander valse fondamente vir bekering. Die Here moet net “aangeneem” word sonder sondebelydenis en die daaropvolgende reiniging deur Jesus Christus wat sy bloed vir die redding van alle helverdiende sondaars gestort het.

Die skepping en verdere uitbreiding van ekumeniese bande. Die afwatering van die Bybelse verlossingsleer lei daartoe dat ekumeniese bande tussen alle “Christelike” kerke gesmee kan word, insluitende die Rooms-Katolieke Kerk. Almal kan hande vat omdat daar omtrent geen leerstellige basis vir hulle broederskap is nie – hulle moet Christus net met hul lippe bely, ongeag die toestand van hulle harte (Matt. 15:8-9). Hierdie valse ekumene is só swak in Bybelse waarhede gefundeer, dat hulle spoedig die deur vir die nie-Christelike gelowe sal oopmaak en sodoende in multigodsdienstige ekumene ontaard. ‘n Totaal antichristelike broederskap kry dan beslag.

Die menslike manifestering van die koninkryk van God op aarde. Die ekumeniese bande tussen alle gelowe lei tot ‘n internasionale spanpoging om die eindtydse toring van Babel, soos in Openbaring 17 en 18 beskryf, te help bou. Sodoende kry ‘n wêreldbroederskap, eenheid, vrede en gelykheid sy beslag. Aan die hoof van hierdie nuwe wêreldorde sal die Satan, die Antichris en die valse profeet wees (Op. 13), met verskeie ander valse profete en “apostels” wat in laer rangordes sal funksioneer. Baie geld sal tussen hierdie valse leiers in omloop wees, en hulle sal hoë aansien onder die misleide massas geniet.

Dit is van die uiterste belang dat evangeliese, Bybelgelowige Christene sal leer om die toenemende aantal geestelike leierspersone aan ‘n streng skriftoets te onderwerp, anders word hulle dalk self mislei. Ons het ‘n Bybelse opdrag om alle dinge te ondersoek (1 Thess. 5:21) en die dwaalleringe aan die lig te bring. Die Here verkwalik ons as ons mislei word nadat ons geestelik ‘n tyd lank die reguit pad bewandel het: “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees? Hierdie oortuiging kom nie van Hom wat julle roep nie. ‘n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur” (Gal. 5:7-9). Paulus sê ‘n opsiener moet een wees “wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê” (Titus 1:9).

Die Woord van die Here is dus die vaste norm. In die lig hiervan kan elke dwaling beoordeel en weerlê word. Geen evangelie of leerstelling anders as dit wat in die Bybel geopenbaar is, mag deur ons aanvaar word nie – ongeag wie dit verkondig (Gal. 1:8-9).

As ‘n voorbeeld van die waarskuwings wat hierbo gegee is om teen misleiding te waak, bespreek ons nou enkele van die geestelike dwalings van Robert Schuller, Billy Graham en Norman Vincent Peale. Dit is belangrik dat ‘n persoon nie beoordeel sal word op grond van wat hy vroeër jare gedoen en gesê het nie, maar op grond van sy huidige posisie. Soms word die integriteit en aansien wat oor jare heen opgebou is, deur sekere leiers eenkant toe geskuif terwyl hulle willens en wetens ‘n dwaalweg inslaan. Hulle ondersteuners en volgelinge moet dan des te meer waak om nie saam met hulle op ‘n dwaalweg meegesleur te word nie.

Die geestelike ondergang van Amerika word deur etlike van sy hoëprofielleiers verhaas, omdat hulle openlike kompromie met multigodsdienstige denke bevorder.

DR. ROBERT SCHULLER

Dr. Schuller is die skrywer van die boek Self-Esteem: The New Reformation, en het ‘n bekende TV program, The Hour of Power, wat in sowat 20 miljoen huise gekyk word. Oudpresident Clinton het in ‘n toespraak na dr. Schuller as een van Amerika se bekendste predikers verwys. Schuller het ‘n baie groot invloed op die Christendom, veral op die volgende twee terreine: (1) die gebruik van sielkundige metodes van geestelike ontwikkeling, en (2) die bevordering van ekumeniese denke. Sy mentor en leermeester is Norman Vincent Peale, die vader van “positiewe denke.”

Self-agting

Die kerngedagte van Schuller se teologie is “self-esteem” (self-agting of self-ingenomenheid). ‘n Positiewe selfbeeld moet by alle mense geskep word wat tot die Christendom toetree, want hierdeur sal God ook verheerlik word. Hy verkondig dus ‘n mensgesentreerde teologie. Volgens hom is kerke tot mislukking gedoem as hulle die ongeredde wêreld met ‘n God-gesentreerde houding benader waarin mense as sondaars gebrandmerk word wat in rebellie teenoor God verkeer.

Schuller gebruik die regte Bybelse begrippe, maar gee ‘n totaal ander betekenis aan hulle, soos uit die volgende definisies en beskouings van hom blyk:

Sonde is ‘n daad of gedagte wat mense van hulle self-agting beroof. Vir Schuller is sonde dus nie ‘n wanverhouding met God as gevolg van dade van rebellie en die verbreking van sy wette nie. In 1 Johannes 3:4 sê die Bybel duidelik dat sonde wetteloosheid is.

Oorspronklike sonde is die toestand waarin almal van ons gebore is, nl. ‘n gebrek aan vertroue, m.a.w. ‘n negatiewe selfbeeld en ‘n minderwaardigheidskompleks.

Die hel is nie ‘n plek nie, maar ‘n toestand van verlies aan trots wat met skeiding van God gepaard gaan.

Wedergeboorte beteken dat ons van ‘n negatiewe tot ‘n positiewe selfbeeld verander word; van minderwaardigheid tot self-agting, van vrees tot liefde, van twyfel tot vertroue. Wedergeboorte is vir hom dus nie die verlossing van sonde en van die dood nie.

Die koninkryk van God bestaan uit mense wat op ‘n nie-veroordelende manier deur Jesus aangeneem is, en van self-skande tot self-agting verander is.

Baie kerke het hierdie valse leer van Schuller aanvaar. Dit is egter op ‘n sielkundige wanopvatting gebaseer. Volgens die Bybel is die probleem van die mens nie ‘n gebrek aan self-agting en self-liefde nie. Die gevalle mens het eerder ‘n oormaat daarvan, en dit lei tot hoogmoed. Paulus sê dat die moreel en geestelik vervalle mense liefhebbers van hulleself is, grootpraters en trotsaards (2 Tim. 3:2). In Efésiërs 5:29 sê hy ook dat niemand ooit sy eie vlees gehaat het nie. Schuller soek dus die probleem van mense op ‘n terrein waar dit nie is nie, terwyl hy die sondigheid van die ou, verdorwe natuur, en die gepaardgaande verlorenheid en rebellie teenoor God, ignoreer asof dit nie bestaan nie.

Ekumenisme

Schuller se nuwe reformasie sluit ook ‘n bereidwilligheid in om leerstellige verskille ter wille van eenheid opsy te skuif. Hy sê dat verdeeldheid en verdagmakery tussen Christelike kerke nie geduld moet word nie. Denominasies moet hulle verskille laat staan en hande vat om ‘n kragtige eenheid te demonstreer.

Dié benadering is ook die dryfkrag agter bewegings soos Promise Keepers en die Katoliek-Evangeliese verbond. Belangrike leerstellige beginsels word oorboord gegooi omdat dit in die pad van groter eenheid staan.

Koninkryk-nou

Schuller het ook die dwaling van die koninkryk-nou teologie ten prooi geval. Die ewige heerlikheid en ewige straf wat in die Bybel beskryf word, word weggeredeneer en met ‘n koninkryk-nou visie vervang. Volgens Schuller word mense deur die klassieke beskouings oor die hemel en die hel afgesit. Die uitdaging moet volgens hom eerder aan mense gestel word om vrede, broederskap en ekonomiese eenheid te skep. Ons moet dus ‘n mensgemaakte koninkryk op aarde skep, want dit is die toekoms waarheen ons almal op pad is. Sodoende word godsdiens aan die sekulêre doelwitte van die mens se eie belange dienstig gemaak. Hy word sy eie god en werk sy eie toekoms uit.

Vir meer inligting oor Schuller, raadpleeg die webblad www.deceptioninthechurch.com/page3.html

DR. BILLY GRAHAM

Billy Graham is ‘n man wat in sy vroeër jare ‘n groot werk as evangelis gedoen het. Hy het die evangelie van verlossing aan miljoene mense verkondig. Die vraag is egter: waar staan hy vandag? Het hy dalk die slagoffer van ‘n gees van hoogmoed, aansien, rykdom en ekumeniese kompromie geword wat hom al lankal volg? In die lig van die stappe in die geestelike vervalproses wat aan die begin van hierdie artikel genoem is, kan ons ook sekere van sy uitsprake en standpunte evalueer. Die feite sal vir hulleself spreek.

In Dave Hunt se boek, Occult Invasion – the Subtle Seduction of the World and the Church, bl. 587-590 word skokkende aanhalings uit onderhoude met dr. Billy Graham aangehaal. Die volgende is ‘n uittrekse uit die program Larry King Live:

King: “What do you think of other churches… like Mormonism, Catholicism and other faiths within the Christian concept?”

Graham: “Oh, I think I have a wonderful fellowship with all of them… I am very comfortable with the Vatican. I have been to see the pope several times. In fact, the day that he was inaugurated as Pope, I was preaching in his cathedral in Krakow. I was his guest… I like him very much. He and I agree on almost everything.”

King: “Are you comfortable with Judaism?”

Graham: “Very comfortable… Yitzhak Rabin was a great friend… In New York they have had me to the Rabbinical Council to meet with them and to talk with them and Rabbi Tannenbaum, who was a great friend of all of us, who died, he gave me more advice and more counsel, and I depended on him constantly, theologically and spiritually and in every way.”

King: “You’re a big admirer of Hillary Clinton, right?”

Graham: “Yes. I think a great deal of Hillary… I like the Clintons very much.”

Verder haal Dave Hunt ook gedeeltes van ‘n onderhoud aan wat Robert Schuller met Billy Graham gevoer het (ibid, bl. 588-9). John MacArthur berig egter in sy nuusbrief van 15 Februarie 2001 meer volledig oor hierdie onderhoud. Die volgende is ‘n uittreksel hieruit:

Schuller: “Tell me, what do you think is the future of Christianity?”

Graham “I think everybody that loves Christ, or knows Christ, whether they’re conscious of it or not, they’re members of the Body of Christ… [God] is calling people out of the world for His name, whether they come from the Muslim world, or the Buddhist world, or the Christian world or the non-believing world, they are members of the Body of Christ because they’ve been called by God. They may not even know the name of Jesus but they know in their hearts that they need something that they don’t have, and they turn to the only light they have, and I think that they are saved, and that they’re going to be with us in heaven… There is a wideness in God’s mercy.”

In ‘n eksklusiewe onderhoud met Parade, ‘n byvoegsel tot ‘n Sondagkoerant, het Billy Graham gesê: “I fully adhere to the fundamental tenets of the Christian faith for myself and my ministry. But, as an American, I respect other paths to God  – and, as a Christian, I am called to love them.” Dave Hunt (ibid, bl. 589) se kommentaar hierop is soos volg: “Unless Jesus was mistaken when He said, ‘I am the way … no man cometh unto the Father but by Me’ (John 14:6), there are no ‘other paths to God’.”

Die vraag is: Gaan Billy Graham die “Christen” voor die regterstoel van Christus rekenskap van sy lewe en beskouings gee, of Billy Graham die “Amerikaner”? Hierdie twee persone is klaarblyklik nie dieselfde nie. Die Bybel sê dat ons in ons “hele lewenswandel” heilig moet word (1 Pet. 1:15), en dit beteken dat ons afgeskeie van die wêreld en die valse gelowe moet wees.

‘n Nieu Seelander wat in 1957 onder Billy Graham se prediking tot bekering gekom het, was baie geskok en teleurgesteld toe hy jare later van hierdie nuwe beskouing van Graham kennis geneem het. Hy skryf: “A lot of what I saw, heard and read… contradicted what I had experienced in 1957! Something had changed… The Billy Graham Evangelistic Association had become ‘politically correct’. It was now the friend of politicians and governments world-wide, and a welcome guest at the Vatican! Further investigation proved depressing and alarming… The decline from Evangelical orthodoxy to ecumenical apostasy has taken a mere 40 years” (aangehaal deur Dave Hunt, bl. 590).

NORMAN VINCENT PEALE

Norman Vincent Peale het verskeie Bybelse stellings duidelik bevraagteken. Hy het bv. gesê dat die opvatting oor Jesus se maagdelike geboorte ‘n teologiese idee is. Die groot onderneming in sy bediening was om teologie en sielkunde te vermeng en sodoende die grondslag vir ‘n vorm van Christelike sielkunde te lê wat misties en okkulties is. Dave Hunt (Occult Invasion, bl. 460) sê: “Peale was worse than a liberal. He openly acknowledged that many of his ideas came from two leading occultists, Religious Science founder Ernest Holmes and Unity cult cofounder Charles Fillmore.”

Peale sê die wêreld is geestelik en nie fisies nie. “God” is ‘n energiebron wat deur die mens ingeasem en gebruik kan word. Hy kan dus sy eie god word. “Gebed” is ‘n wetenskaplike metode waardeur jy die goddelike energie in terme van sekere wette kan vrystel. Deur jou gedagtes kan jy enigiets verander. Jou onderbewussyn kan selfs jou wense in werklikheid omskep as daardie wense sterk genoeg is. Deur middel van positiewe belydenis (“positive confession”) word hierdie gedagtes hardop uitgespreek en word dan verwerklik. Vir hom is dit dieselfde as geloof.

Volgens Dave Hunt (ibid, bl. 117) is Peale ‘n 33ste graad Vrymesselaar. Sy foto het op die voorblad van dié organisasie se tydskrif, New Age, verskyn, en hang ook in die Vrymesselaarstempel in Washington DC. Die universalisme en okkultiese agtergrond van dié beweging het ‘n duidelike stempel op sy leerstellings afgedruk. Die “god van alle gelowe” is vir hom ‘n energiebron wat deur alle godsdienste gemanipuleer en deur hulle eie name vir “god” aangespreek kan word.

Dave Hunt (ibid, bl. 587) sê die volgende oor Norman Vincent Peale se multigodsdienstige denke: “It is perhaps even more tragic when Christian leaders betray that faith while continuing to profess it. On the Phil Donahue program in 1984, Norman Vincent Peale said: ‘It’s not necessary to be born again. You have your way to God; I have mine. I found eternal peace in a Shinto shrine… I’ve been to Shinto shrines, and God is everywhere.’ Shocked, Phil Donahue responded, ‘But you’re a Christian minister; you’re supposed to tell me that Christ is the way and the truth and the life, aren’t you?’ Peale replied, ‘Christ is one of the ways. God is everywhere.’ Yet Peale, who, in addition to his many heresies, was deeply involved in the occult, has enjoyed the unremitting praise not only of his chief disciple, Robert Schuller, but of Billy Graham and other evangelical leaders.”

John Templeton het in 1994 ‘n boek met ‘n sterk okkultiese en multigodsdienstige inslag geskryf, getiteld: Discovering the Laws of Life. Hierin sê hy: “Behind this book is my belief that the basic principles for leading a sublime life may be derived from any religious tradition – Jewish, Muslim, Hindu, Buddhist and others, as well as Christian… We have the power to create whatever we need in our life and this power which lies within us is the power of the mind.” Norman Vincent Peale, wat glo dat ‘n mens deur positiewe denke jou eie werklikheid skep, het die voorwoord vir hierdie boek geskryf. Verder is Templeton se boek op sy omslag ook deur Robert Schuller, Billy Graham en twee Rooms-Katolieke New Era-priesters aanbeveel.

Die einddoel van misleiding

Die wêreld is nou gereed om die valse profeet te ontvang. Hy sal deur sy godsdienstige bedrog die reeds dwalende wêreldgemeenskap nog verder op die weg van misleiding meevoer. Hulle sal met min moeite oortuig word om die Antichris as die universele messias van alle gelowe te aanvaar. Die grootskaalse afwatering van ‘n Christelike verlossingsleer, asook die groot inslag van multigodsdienstige denke in voormalig evangeliese kringe, is die finale aanduiding dat die tyd vir die groot aanslag deur die Antichris en die valse profeet op wêreldleierskap baie naby gekom het.  Wanneer die teëhouer, die ware kerk, deur die wegraping weggeneem is, sal hierdie twee belangrike agente van Satan skielik met hulle valse vredes- en eenheidsboodskap op die toneel verskyn en universeel aanvaar word.

Hulle sal op die werk van hul wegbereiders voortbou en die aanhangers van alle gelowe daarvan oortuig dat hulle al die tyd vir dieselfde ‘Messias’ gewag het, en ook dat God behae in hulle ekumeniese eenheid het. Hierdie misleiding sal oral inslag vind en na die skepping van ‘n alliansie van wêreldgodsdienste lei. Almal van hulle sal die Antichris en die valse profeet aanhang. Diegene wat weier om saam te werk, sal hulleself aan verdrukking en vervolging blootstel.

Die huidige, populêre neiging onder liberale godsdiensleiers wat op eenheid, mag en rykdom ingestel is, baan nie die weg vir die koms van die ware Christus nie, maar vir die Antichris. Hulle mislei miljoene Christene om beginsels prys te gee en kompromie te maak, sodat vrede en eenheid op aarde kan heers. Wanneer die ‘vredevors’ van alle gelowe kom, sal hy hierdie manne hoë lof toeswaai. Ná 3½ jaar sal die Antichris homself egter tot God verklaar en op almal se aanbidding aandring. Sal sy meelopers se oë dán oopgaan?


Prof Johan Malan


 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *