Het niemand my Beminde gesien nie?
Vir jare het ek agter die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe aangeloop — agter die dinge van die wêreld. Maar diep binne-in my was dit altyd leeg en eensaam. Altyd op soek na iets, sonder om te weet waarna.
Terwyl ek nog op die wêreld rondgedans en gespeel het, my verlustig in die dinge van die wêreld, het daar eendag, heel onverwags, ’n sagte klop aan my hart se deur gekom.
Ek het nader geloer om te sien wie daar klop.
Wat ek gesien het, het alles binne-in my in beroering gebring. My hart het opgespring, en ek was dadelik smoorverlief.
Ek het my gehaas en oopgemaak, want ek het geweet: dit was waarna ek my hele lewe lank gesoek het — my Beminde!
Wat ’n wonderlike, wonderlike ontmoeting!
Toe ek my Beminde se soete stem vir die eerste keer hoor, het alles binne-in my verander. Dit was asof my oë oopgegaan het, en ek begin verstaan het — alles wat ek voorheen nie verstaan het nie.
Ek wou net meer en meer van my Beminde hê. Ek wou Hom beter leer ken, meer van Hom hoor, nader aan Hom kom. Maar toe het my Beminde begin wegdraai.
Ek het geroep en geroep, maar my Beminde het nie geantwoord nie. Hoe meer ek geroep het, hoe stiller het dit geword.
Ek het begin soek, diep binne-in my. Het ek dan iets verkeerd gedoen? Waarom het my Beminde begin wegdraai? Was daar iets in my wat Hom bedroef het? Ek het nie verstaan nie. Ek het tog niks anders begeer as om nader aan Hom te kom nie, om meer van Hom te hoor, om Hom beter te leer ken nie.
Toe begin ek myself deur my Beminde se oë sien. Dinge wat ek voorheen nie raakgesien het nie, het skielik duidelik geword. Ek het begin sien hoe onrein ek nog was, hoeveel daar in my lewe was wat nie met Sy heiligheid ooreengestem het nie. Die dinge wat voorheen vir my normaal was, het nou anders gelyk. My eie tekortkominge, my sondes, my gedagtes en die begeertes van my hart het voor my kom staan. Hoe nader ek aan my Beminde wou kom, hoe meer het ek besef hoeveel daar nog in my lewe was wat moes verander.
Maar ek kon nie maak asof ek my Beminde nooit ontmoet het nie. Ek kon nie terugkeer na die lewe wat ek voorheen geken het, asof niks gebeur het nie. Ek het iets gesien wat my hart vir altyd verander het. Ek het Sy stem gehoor, en niks anders kon die verlange stilmaak wat Hy in my wakker gemaak het nie.
“Ek het my kleed uitgetrek, hoe kan ek dit weer aantrek? Ek het my voete gewas, hoe kan ek dit weer vuil maak?”
Ek het uitgehardloop, agter my Beminde aan. Ek moes Hom vind. Ek moes weet waar Hy was, en hoe ek nader aan Hom kon kom.
Die mense vir wie ek vra of hulle my Beminde gesien het, lag vir my. Sommige begin my selfs slaan en maak asof ek kranksinnig is. Ek verstaan dit nie. Het hulle dan nie my Beminde gesien nie? Is hulle dan nie ook krank van liefde nie? Verlang hulle dan nie ook daarna dat hulle Beminde heeltemal in hulle lewens moet inkom nie?
Ek hardloop van plein tot plein, op soek na my Beminde. Ek kan nie rus voordat ek Hom gevind het nie, al kos dit wat, al moet ek my lewe aflê. Want ek het my Beminde gesien, en ek is smoorverlief!
Dan hoor ek van ’n Beminde wat geloof en geprys word. Opgewonde haas ek my soontoe. Hier is my Beminde! dink ek. Maar tevergeefs — dit is nie die Beminde wat ek ontmoet het nie.
Dan hoor ek van massas mense wat bymekaarkom om ’n beminde te aanbid. Weer haas ek my opgewonde soontoe. Dalk is Hy hier! Dalk het hulle Hom ook ontmoet! Maar tevergeefs. My moed sak weg. Ook hier vind ek nie die Beminde wat my hart so diep geraak het nie.
Oral hoor ek mense oor ’n beminde praat. Oral getuig hulle van hom. Elke keer begin my hart hoop. Is dit dalk my Beminde van wie hulle praat? Het hulle Hom gevind? Ken hulle Hom soos ek Hom ken?
Maar wanneer ek daar aankom, moet ek telkens besef: dit is nie die Beminde wat ek gesien het nie.
Ek raak moedeloos. Het niemand dan my Beminde gesien nie? Niemand, nie eers een nie?
Niks maak meer vir my saak nie. Nie wat mense dink of sê nie. Al wat vir my saak maak, is my Beminde wat ek gesien het. Ek moet Hom vind. Maar waar moet ek nog soek?
Ek wil niemand behaag nie. Ek wil nie meer agter mense aanloop of tevrede wees met wat hulle my aanbied nie. Ek soek net my Beminde — die Een wat my hart vir altyd verander het.
Ek moet Hom vind, voor dit te laat is.
Skrifverwysings
Hooglied 3–6; Jesaja 41:9; 1 Johannes 3:15–17; Spreuke 8:30–31.



