Het jy genoeg olie? – Kind van God

Het jy genoeg olie? – Kind van God

Here Here! – het ek nie?… gaan weg van My, ek het jou nooit geken nie…….

Ons lees in Mat 7:22-23 hierdie aangrypende verhaal wat baie Christene gaan ontnugter wanneer hulle binnekort voor die Here te staan gaan kom. In Mat 22:11-12 lees ons waar Jesus tussen Sy bruid beweeg en vra, “vriend, hoe het jy hier ingekom, sonder ʼn bruilofskleed aan?”Maar hy het nie eers probeer stry soos die in Mat 7 nie, want hy het die waarheid geken. God sê dat Hy met vuur en vlam wraak gaan uitoefen teenoor die wat Hom nie geken het nie, en die wat die ware evangelie nie gehoorsaam was nie 2The 1:8. Kind van God – het jy genoeg olie Exo 27:20-21, is jou kleed skoon en rein – is jy dood seker, jy is reg om voor Hom te staan?

Vasgevang – Mense het die Woord van God deur die eeue soveel maal probeer diskrediteer, maar soos ʼn ambeul het dit bly staan, terwyl hulle almal al verdwyn het. Baie mense sê dat hulle kinders van God is maar as jy na hulle vrugte kyk, sien jy nie die vrug wat by die bekering pas nie Mat 3:8. Meeste Christene lees nie meer die oorspronklike vertaling nie, en meet dan met ʼn verkeerde maatstelsel 1Kor 2:15. Die Bybel word ook al hoe meer verbruikersvriendelik herskryf, om almal te akkommodeer. 1Kor 2:14 sê – dat die natuurlike mens nie die Bybel kan verstaan nie. As jy jou nie bekeer, sodat jy wedergebore word nie, kan die Heilige Gees nie vir jou die Woord oop breek nie. Die skrif word dan vleeslik beoordeel, en nie geestelik nie en ʼn ander Jesus en evangelie ontstaan, en ʼn ander gees word ontvang 2Kor 11:4. Ons lees deur die Evangelies hoe Jesus ons oor en oor waarsku “pas op dat julle nie mislei word nie. Luk 21:8. Volgens Jesus sal daar voor sy koms baie valse profete en leraars wees wat ʼn ander Jesus gaan verkondig. Jesus sê, dat in die laaste dae, menigte leraars versamel gaan word om die mense se oor te streel 2Tim 4:1-5, omdat hulle die gesonde leer nie wil verdra nie. Party glo dat die kinderdoop hulle gered het, sommige glo dat hulle uitverkies is, en ander glo, as jy eenmaal gered is, is jy altyd gered. Meeste glo die genade beskerm hulle, en hulle stry nie die stryd soos iemand wat hardloop om die prys te verkry nie 1Kor 9:24. Sondes word onderdruk, maar later manifesteer dit weer, en dan begin die vergifnis proses weer van vooraf. Min lees en bestudeer die woord van God, onder leiding van die Heilige Gees, om te bepaal wat God hieroor te sê het 1Kor 2:10. Te veel vertrou blindelings hulle kerk se leerstellings en kom nooit vry van die mag wat Satan oor hulle het nie. Meeste leerstellings gee die idee dat Jesus se bloed soos ʼn kombers tussen hulle en God staan en God sien nie hulle sondes raak nie. Solank hulle onder die kombers is, is hulle veilig. Hulle bly altyd onder die mag van Satan, en kry nooit oorwinning oor hulle sondes nie. Christene trek ook nie die volle wapenrusting aan nie nl. die waarheid, bereidheid, geloof, verlossing en die (ware) woord van God, om staande te bly in die dag van onheil Efs 6:10-18. Christene word geleer dat hulle gered is die oomblik toe hulle gelowig geword het. Meeste Christene en selfs leraars word soos Nikodémus Joh 3:1-12, het al die kennis, is toegewy, maar is nie wedergebore nie, hulle bly vasgevang en verlore.

Jesus se doel – Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het die voorhangsel geskeur en vir die eerste keer het die mens toegang tot die Heiligdom verkry Mat 27:51. Jesus het ʼn brug gespan tussen ʼn verlore wêreld en die Heiligdom. Almal het nou toegang, maar as jy dink dat jy met jou sondige toestand oor die brug kan stap tot in die Heiligdom, omdat jy in Jesus glo en Hy jou liefhet – maak jy ʼn groot fout. Jy kan wel oor stap as jy jou deeglik laat was van jou sonde, deur die kosbare bloed van die Lam, Jesus Christus 1Joh 3:3. Jesus se koms, Sy wandel, Sy lyde, Sy sterwe, en Sy opstanding, se doel was nie om ons oor en oor te vergewe vir ons sonde nie. Ons moet ons sondes bely 1Joh 1:9 en laat staan Spr 28:13. Jesus het die duiwel, die dood, en die sonde oorwin. Deur Sy oorwinning kan ons, deur Hom, oorwin 1Kor 15:57. Al moet ons ten bloede veg teen die sonde Heb 12:4. Ons sonde vorm ʼn skeidsmuur tussen ons en God Jes 59:2. As jy nie groei en oorwinning kry oor sonde nie, sal jy ʼn gedaante van godsaligheid aanneem 2Tim 3:5, kragteloos lewe, en nie reg wees om jou Heiland te ontmoet nie Heb 12:14. As jou Godsdiens jou nie leer en bemoedig om by die kruis te kniel, en daar te bly, tot jy gesterf het aan die eie ek nie, staan jy op ʼn valse fondament – Hoe anders getuig jy van die evangelie, Jesus se oorwinning, en Jesus se opstanding, as jy nie daagliks kan getuig van oorwinning oor sonde nie, en dan ook die vrug dra wat by die bekering pas Mat 12:33. Jesus het self gesê in Mat 10:39 wie sy lewe in hierdie lewe vind sal dit verloor, maar hy wat sy lewe in hierdie lewe verloor sal dit vind. Kind van God – is jy besig met die dinge van die wêreld, of is jy besig om jou te reinig vir die koms van die Here? – Of staan jy met een been in die wêreld, en die ander een op ʼn vorm van Godsdiens? Jak 1:8.

Kind Van God – Meeste mense wat sê, dat hulle kinders van God is, kwoteer graag Joh 1:12. Hulle sê hulle het God aangeneem, en glo in Jesus, daarom is hulle kinders van God. Maar dit is nie wat daar staan nie, as jy Hom aangeneem het, het Hy jou die mag gegee om ʼn kind van God te word, iets moet gebeur. Hierdie iets lees ons in Rom 8:14 “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, die is kinders van God”. Waarheen lei die Gees van God jou? – van ʼn gevange toestand, tot ʼn verloste toestand. 1Joh 1:7 sê “as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar, en die bloed van Jesus Christus, sy Seun reinig ons van alle sonde.” Ons moet nou na die lig toe gelei word, sodat ons nou geoordeel word. As jy dit nie nou wil doen nie sal jy saam met die res van die wêreld veoordeel word 1Kor 11:31-32. God bestraf en tugtig die wat Hy lief het Opb 3:19. Ons moet nou verlos word Tit 2:14, sodat ons rein voor Hom kan verskyn. Besef jy – hierdie lewe is net ʼn tentwoning? 2Kor 5:1. Of het jou sondes so ʼn skeidsmuur tussen jou en God geword dat jy nie meer Sy stem kan hoor nie? As jy nie Sy stem nou kan hoor om uit te vind wat nog tussen jou en Hom staan nie, hoe gaan jy ooit die waarskuwings hoor voor Sy wederkoms? Gen 19:14 – al die tekens is alreeds daar!

Bekering – Almal is gebore in sonde Psa 51:7 en die loon daarvan is die dood Rom 6:23. God wil hê dat almal gered moet word 1Tim 2:4, as jy Hom aanroep sal Hy jou hoor Rom 10:13. Hy sal met jou praat en aan jou hart se deur klop, en as jy oopmaak sal Hy in jou hart inkom en met jou maaltyd hou Opb 3:20. Baie gee nie ag op hierdie klop nie, en daardeur verhard hulle hulle harte. Maar God hou nie daar op nie, en sal sover gaan om ʼn krisis in jou lewe te stuur, om jou aandag te kry Job 33:14-30. As jy dan ag gee en jou hart oopmaak en Hom aanvaar as jou saligmaker en verlosser sal Hy inkom. Ongelukkig gee baie selfs nie hierop ag nie, en verhard hulle harte nog meer Heb 3:15. God kan jou net red as jy eers tot die besef gekom het dat jy verlore is. Die Heilige Gees doen hierdie ontwaking in jou as jy ag gee. Na jy ag gegee het, moet jy jou bekeer, deur jou rug op die wêreld te draai, en al jou sondes te bely. Jy moet Jesus met alles volg Luk 14:33, die onbekende in. Dit is ʼn suiwer geloofstap, terwyl die Heilige Gees die werk doen en jou lei, in ʼn persoonlike verhouding met Jesus Christus.

Wedergeboorte – Na jou bekering, as jy opreg al jou sonde uit jou hart bely het, word jy deur barmhartigheid, wedergebore Tit 3:5. Dit is iets wat in die Hemel gebeur en jou hart het gemeenskap daarin. Baie verwag ʼn gevoel of ʼn ondervinding en as hulle dit nie dadelik kry nie val hulle terug. Alles moet in volle geloof gebeur, jy sal wel op die regte tyd ʼn Goddelike vrede ervaar Joh 14:27. Nou word met sondes soos rook, drink, hoereer, oneerlikheid, baklei, steel ens. gehandel. Na jou wedergeboorte kom openbaar God Hom in Sy volheid aan jou deur die woord. God sal hier genoeg in jou lewe doen sodat jy vir altyd oortuig sal wees dat Hy lewe, en dat alles wat in die woord is – waar is. Alles in jou lewe begin nou verander 2Kor 5:17 tot ʼn liefde vir ander ontstaan, selfs vir jou vyande Rom 12:20. As jy nie kan getuig dat alles binne jou verander het en in beroering gekom het nie, die oomblik toe die God van die heelal jou aangeraak het nie, Hoo 5:3-4 staan jy op ʼn valse fondament aangaande jou wedergeboorte.

Misleiding – Na wedergeboorte is dit ʼn baie gevaarlike tyd vir ʼn Christen, want jy is nou soos ʼn spons wat alle inligting insuig, jou gees het nou ontwaak. Satan gaan probeer om jou besig te hou, met alles behalwe waarmee jy besig moet wees, onder die titel van “Christenskap”. Jesus sê, dat die mens nie na die lig toe wil kom nie, sodat met sy sondes gehandel word nie Joh 3:19-21. Die duiwel gebruik dit en bied Christene baie keuses om nie na die lig toe te gaan nie. ʼn Voorspoed teologie word aangebied, wat aanvaarbaar lyk, want dit is mos Christenskap. Hulle leer dat hulle nou konings is en toegang het tot al die Hemelse kragte en dat God hulle nou gaan sëen met wêreldse sëeninge. Hulle word met wêreldse Christelike musiek vermaak en dink dat die emosionele gevoel van dĺe musiek, die Heilige Gees se teenwoordigheid is. Hulle word nooit verlos van hulle sonde nie want die ware Heilige Gees se werk is om ons alles van Jesus te leer en te oortuig van sonde Joh 16:8. Die wêreld word nou vinnig voorberei vir die eindtyd se kerk, wat met almal gaan hande vat Ope 18:3-4. Christene word gebombardeer met positiewe denke en doelgerigte kursusse. Die gevolg daarvan is, hulle hoor nie meer die stem van die Heilige Gees, wat hulle kruis toe wil lei nie, maar bou liewer die eie-ek op, in plaas van dit te kruisig. Leerstelling van verlossing word nie meer gehoor nie, maar liewer dat alle mense regte het. Hulle glo dat hulle kinders van God is, maar hulle lyk soos die wêreld, praat soos die wêreld, en doen soos die wêreld 1Joh 2:15-17. Hulle word lou Christene wat sê dat hulle aan niks gebrek het nie, maar weet nie dat dit hulle is wat blind en naak is nie, Opb 3:14-22.

Heiligmaking – As jy jou sondes bely en laat staan sal die Heilige Gees jou na wedergeboorte verder lei. Jou volgende stap is om by ʼn punt te kom waar jy totaal en al moet sterf aan die eie ek, en wêreldgelykvormigheid Rom 12:1-2. En soos Paulus getuig, ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my Gal 2:20. God kan jou nie gebruik om ander te help as jy nie self verlos is nie. Almal wat in Christus gedoop is, is in Sy dood gedoop Rom 6:3. Die doop is seker die belangrikste fondament vir ʼn heilige oorwinnende lewe, maar min bereik hierdie stap want hulle is as kinders gedoop en weet nie mooi waar die doop in pas nie. Party is weer groot-gedoop, alhoewel hulle nooit werklik wedergebore is nie. Met die doop sluit jy ʼn huweliks-verbond met God en kan jy nie, soos in ʼn egskeiding, net weer eendag onttrek nie Heb 6:1-6. Met jou doop, na ware wedergeboorte, bely jy dat jy jou alles vir Hom gee en dat jy jou self vereenselwig  met Sy dood Kol 2:11-12. Die Heilige Gees sal jou nader na die lig toe lei sodat daar nou met sondes soos haat, bitterheid, onvergewings gesindheid, skinder, vloek, tweedrag saai, humeur, lieg ens. gehandel kan word. En soos jy aflê en oorwin word jy meer en meer aan Jesus gelykvormig – dit is Heiligmaking – en nou maak jy olie bymekaar. Dit is nie werke wat jou regverdig maak nie, maar daar volg outomaties werke na oorwinning. Geloof alleen kan jou nie red nie Jak 2:14. As jy werklik gesterf het aan die eie ek, en alles op die altaar geplaas het, en dit daar gelos het, doen God ʼn dieper werk van genade binne in jou hart 1The 5:23. Hier word met die oorsprong van sonde gehandel en word dit makliker om versoekings te weerstaan Rom 6:22. Teen die tyd het jy seker nie meer vriende nie, die wêreld haat jou Mat 10:22, en jy lyk, praat, dink, en doen alles presies die teenoorgestelde as die wêreld 1Joh 3:1. Ongelukkig, bereik min hierdie punt, want hulle kom nooit tot ʼn werklike totale oorgawe nie. Hulle lewe ʼn staan en val Christenskap, vrugteloos, magteloos en dissipelloos – Mat 28:19.

Teenstand – Drie dinge wat jou hewig teen staan, op die nou eensame pad kruis toe.

  1. Jou vlees – neig soms terug wêreld toe, maar die Here tree vir jou in, en gee oorwinning.
  2. Die duiwel – val jou gedagtes gedurig aan, maar weereens, deur die Here kry jy oorwining.
  3. Lou Christene – wat jou heeltyd – ʼn goedkoper Jesus aanbied. Dit is die ergste van die drie, want niemand kan vir jou intree nie, net deur geloof moet jy voort veg. God sê Hy sal hulle uit Sy mond spuug Opb 3:16 – baie Christene val terug weens die invloed van lou Christene.

Die gevaar – Die misleiding is so fyn, want die duiwel kom soos ʼn engel van die lig 2Kor 11:14. As jy nie die Heilige Gees gaan toelaat om jou te lei tot by ʼn punt waar jy werklik totaal en al oorgee nie, staan jy ʼn goeie kans om deur die eindtydse lou, wêreldse, kerk van Laodicea saamgesleep en mislei te word Opb 3: 14-22. Onthou jou sondes bedroef die Gees van God Efe 4:30, en kan Hom selfs uitblus 1The 5:19. Jesus self het gesê Luk 13:24 dat dit ʼn nou pad is, en alhoewel baie sal probeer, min dit sal vind. 1Tim 4:16 sê dat die wat tot die einde toe volhard, gered sal word. Paulus sê in 2Tim 2:11 as ons saam met Hom gesterf het sal ons saam met Hom lewe. 1Kor 1:18 waarsku ons dat die kruis boodskap wel dwaasheid is vir die wat verlore gaan maar vir die wat gered word is dit die krag van God. Onthou – almal wat Godvrugtig wil lewe, sal vervolg word 2Tim 3:12, nie geseën word in wêreldse materialisme nie. Pas op vir verbruikers vriendelike Godsdiens, dit is oral. Dit leer ʼn ander Jesus en ʼn ander evangelie en ontvang ʼn ander gees. God sê, as jy met die misleiding speel, sal Hy self die krag van die dwaling stuur, sodat jy die leuen sal glo 2Tes 2:9-11.

Wat sê God oor sonde! – Die siel wat sondig, díe moet sterwe Ese 18:4. God verhoor nie sondaars nie Joh 9:31. Sal ons in die sonde bly, vir genade? – Nee! Rom 6:1. As God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, wat van ons 2Pet 2:4. God wil ons verlos, en vir Homself ʼn volk as Sy eie reinig Tit 2:14. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie 1Joh 3:6.

Waarskuwing – Sien jy die tekens in die kruis? Luk 21:28. Duisende jare gelede is almal reeds in jou eie Bybel voorspel Jes 46:9-10, as ʼn waarskuwing aan ons, op wie die eindes van die tyd gekom het 1Kor 10:11. Jesus sê in Mat 25:1-13 dan sal die koningkryk van die hemele wees soos tien maagde – (1953 vertaling), nie meisies nie – (1983 vertaling), nie jong meisies nie – (nuutste vertaling) – nee maagde, – skoon gewas in die bloed van die Lam. En terwyl Hy talm om te kom het ALMAL vaak en aan die slaap geword. En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom! – maar net vyf was verstandig – genoeg olie – en vyf was dwaas – te min olie – Waar staan jy vandag, kind van God – Het jy genoeg olie? Hoor, Hy is oppad!


Jacques Lucas


 

3 Responses

  1. Fantasties! Die Waarheid sal nog altyd seevier. Baie goed om te sien daar is nog mense wat God se woord suiwer bedien. Hou aan om reguit te loop. Bly vasstaan by die Bybel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *