Eindtydse Misleiding in die Opkomende Kerk

Eindtydse Misleiding in die Opkomende Kerk

Ons leef in ‘n tyd waarin daar toenemende druk op omtrent alle kerke in die wêreld toegepas word om hulle leerstellings ingrypend te verander. Daar moet minder dogmaties na die Bybel gekyk word, omdat die moderne mens nie sy vryheid deur ‘n eng, letterlike beskouing van die Bybel wil beperk nie. ‘n Bybelse godsbegrip, verlossingsleer en chiliastiese weergawe van die eindtyd, word deur die nuwe hervorming verwerp wat nou aan die gang is. Dit staan in die pad van koninkrykshervormings wat daarop gerig om ‘n gelukkige toekoms vir ‘n verenigde mensdom van alle gelowe te skep. In die postmoderne wêreld beskou mense hulleself vry om hulle eie waardes en geloofsopvattings te bepaal. Wanneer dit met dié van die Bybel verskil, word bloot gesê dat die Bybel in terme van ‘n antieke wêreldbeeld geskryf is toe mense nog geglo het dat daar ‘n duiwel en ‘n hel is, asook ‘n God wat wraaksugtig is en straf vir sonde wil uitdeel. In die postmoderne wêreld word daar volgens nuwe paradigmas gedink wat in botsing met ‘n letterlike vertolking van die Bybel is. Omdat godsdiens nie meer deur geloof nie, maar deur subjektiewe menslike denke bepaal word, word moderne en pre-moderne opvattings gedekonstrueer en met postmoderne idees vervang wat uit ‘n humanistiese wêreldbeeld kom.

Die verskillende strome van godsdienstige dwalings in die wêreld is tans besig om groter te word en met mekaar saam te vloei om ‘n magtige stroom van misleiding te word wat onstuitbaar op sy doel afstuur om die wêreld oor te neem en te verander. Die wêreldkerk wat uit hierdie nuwe hervorming gebore word, word die opkomende kerk van die 21ste eeu genoem – in Engels the emerging church. Dit is die tema van verskeie nuwe boeke wat gepubliseer word, onder andere Roger Oakland se boek met die titel: Faith Undone. The Emerging Church – a New Reformation or an End-time Deception? (Besoek die webblad www.lighthousetrails.com). Dit is inderdaad die doel van die nuwe hervorming om ‘n Bybelse geloof te vernietig en ‘n valse spiritualiteit in die plek daarvan te vestig. Die volgende is die uitstaande kenmerke van die opkomende kerk:

Ontstaan van die beweging

Een van die nuwe hervorming se pioniers was die beroemde Amerikaanse sakeman, Peter Drucker, wat in 2005 oorlede is. Hy het ‘n sterk beweging van postmoderne hervormings in die samelewing aan die gang gesit. Dit het behels dat openbare instellings, beleidsrigtings en geloofsopvattings van die moderne tyd vir dié van ‘n postmoderne tyd moes plek maak. Hy het drie terreine in die samelewing geïdentifiseer waar verandering gelyktydig moet geskied: Op die politieke gebied moet regerings met breë en meer demokratiese beginsels aan die bewind kom sodat daar groter vrede en eenheid geskep kan word – ook met die buitewêreld. Op die ekonomiese gebied moet groot korporasies en multinasionale maatskappye tot stand kom, sodat die sakesektor ‘n groter bydrae tot sosiale verandering kan lewer. Op die godsdienstige terrein moet mega-gemeentes met sterk ekumeniese bande geskep word, om ‘n groter rol in sosiale en geestelike transformasie te kan speel. Leierskapsnetwerke is op al drie hierdie terreine geskep, en hulle werk met mekaar saam om die doel van omvattende veranderings te verhaas. Op dié manier word sielkundige en sakebeginsels ook aktief vir kerkgroei ingespan.

Wat sy godsdienstige oriëntasie betref, het Peter Drucker die grootste aansluiting by die Deense filosoof en godsdienstige denker, Kierkegaard, gevind. Volgens Kierkegaard is geloof nie op objektief waarneembare feite gebaseer nie, maar ‘n subjektiewe saak wat elkeen in sy eie gedagtes kan konstrueer soos hy wil. Sy godsbegrip was misties. Die mens moet vry wees om sy godsdienstige oortuigings volgens sy eie behoeftes te bepaal, daarom was Kierkegaard baie sterk teen die Deense staatskerk gekant, wat volgens hom menslike vryhede aan bande gelê het. Hy het selfs gesê dat ‘n besluit om Christus na te volg, op afgodediens neerkom.

Volgens Drucker en ander postmoderniste is kerke wat rigiede strukture en geloofsopvattings het, bastions van die uitgediende moderne era. Hulle moet verander en ekumenies-gesinde mega-kerke word wat saam met die sakesektor en politieke organisasies ‘n dinamiese rol sal speel om die samelewing te hervorm en te verenig. Daar word spottenderwys na dié kerke en Christene wat nie wil verander en die nuwe hervorming aanvaar nie, as Vintage Christianity verwys – dit is die outydse Christendom. Hulle is soos ou motors uit vervloë dae.

Drucker het ‘n leierskapsinstituut gestig omdat mense se behoeftes volgens hom veel wyer as die grense van tradisionele instellings in die samelewing gaan. Onder die sterk beïnvloeding van Drucker het ‘n ander sakeman, Bob Buford, in 1984 ‘n leierskapsnetwerk gestig om die leiers van innoverende kerke te help om met mekaar saam te werk en só gouer hulle doel te bereik. Twee leiers wat ‘n groot rol in die vroeë dae van die leierskapsnetwerk gespeel het, is Bill Hybels van die Willow Creek mega-kerk en Rick Warren van Saddleback. Bill Hybels het verskeie groot konferensies gehou en ook boeke oor die opkomende kerk gepubliseer. Daar het ook ander prominente leiers na vore getree, soos Leonard Sweet, Professor in evangelisasie aan die Drew Universiteit, en Brian McLaren, ‘n invloedryke evangeliese leier wat sterk ten gunste van fundamentele verandering is.

Die persoon wat egter die grootste impak ten gunste van die opkomende kerk gemaak het, is Rick Warren. Daar is reeds 400 000 predikers in 163 lande wat by sy opleidingsprogram vir doelgerigte gemeentes ingeskakel is. Warren gee groot erkenning aan Peter Drucker en Bob Buford vir sy kennis oor leierskap, en het ook met beide van hulle saamgewerk. Hy het in ‘n onderhoud gesê dat daar vir die stabiliteit van ‘n nasie ‘n sterk en gesonde regering, ‘n sterk en gesonde sakesektor en sterk en gesonde kerke moet wees. Dit is soos ‘n driepoot-stoel wat vas staan. Met die oog hierop gaan hy na verskeie lande om aan regeringsleiers, sakeleiers en kerkleiers hulle rol en plig tot onderlinge samewerking te verduidelik.

Rick Warren praat met kerkleiers van alle denominasies oor sosiale transformasie, ook met Mormone en Katolieke, en beklemtoon telkens dat leerstellings nie so belangrik as diens aan die gemeenskap is nie.

Koninkryksteologie

Die opkomende kerk is baie sterk tot die openbaring van God se koninkryk verbind; dit moet hier en nou, nog voor die wederkoms van Christus, gebeur. In hierdie koninkryk gaan dit oor die mensdom wat gelukkig en tevrede moet wees, sonder onderdrukking, uitbuiting, armoede, siektes, konflik, revolusies, oorlogvoering en ander negatiewe ervarings. Rick Warren het ‘n omvattende PEACE plan ontwerp om die koninkryk in alle gemeenskappe te laat kom. PEACE is ‘n akroniem waarin die P vir Planting and Partnering Churches staan, die E vir Equipping leaders, die A vir Assisting the poor, die C vir Caring for the sick en die E vir Educating the next generation.

Warren beïnvloed miljoene gelowiges én ongelowiges in die wêreld deur sy mengsel van humanitêre en Bybelse doelwitte wat binne die raamwerk van positiewe denke aangebied word. Dit vind byval by regerings, sakemanne, kerke én die breë gemeenskap, ongeag of hulle sekulêr of godsdienstig georiënteerd is, omdat dit daarop gerig is om die samelewing op te hef, armoede uit te skakel, siekes te behandel, die ongeletterdes op te lei, en vrede en versoening tussen alle faksies in die samelewing te bevorder.

Die probleem met Rick Warren se positivistiese en mens-georiënteerde program is dat niks genoem word wat ‘n negatiewe konnotasie het nie, soos bv. geestelike misleiding, die feit dat ongeredde mense verlore sondaars is, en die oordeel van God oor sonde tydens die soendood van Christus aan die kruis. Die kruis en bloed van Christus word doelbewus verswyg, gevolglik is hy besig om ‘n menslike koninkryk op die valse fondament van ‘n ander Jesus te bou. Die 40-dae program van sy doelgerigte lewe word net as ‘n hulpmiddel gebruik om die potensiaal van mense te ontsluit en te ontwikkel, sodat hulle ‘n vervullende lewe kan lei en die volle maat van God se seën kan geniet. Die versoening kom nie duidelik ter sprake nie. George Otis stem ook hartlik hiermee saam, want hy sê dat God nie ons sonde op grond van Christus se kruisdood vergewe nie, maar omdat Hy goed en vergewensgesind is. Die boodskap van Bybelse versoening word al hoe meer op die agtergrond geskuif.

Dit is die taal van die opkomende kerk. In die koninkryk wat hulle besig is om op te bou, word daar nie aandag aan die suiwerheid van Christelike leerstellings gegee nie. Warren sê dat dit in hierdie tweede hervorming nie oor leerstellings gaan nie, maar oor dade: dit gaan nie oor wat die kerk glo nie, maar oor wat hulle doen. Jesus Christus is nie die sentrale fokuspunt van die opkomende kerk nie, omdat die aandag hoofsaaklik op die vestiging van God se koninkryk op aarde toegespits is. Almal moet saamwerk om die probleme van siekte, armoede, werkloosheid, ongeletterdheid, verdeeldheid en konflik uit te skakel. Transformasie-byeenkomste is een van die metodes wat gebruik word om mense te motiveer om hierdie doel te help bereik.

As gevolg van die feit dat die opkomende kerk besig is om ‘n mensgemaakte koninkryk op aarde te vestig waarin almal in vrede en voorspoed saamleef, is hulle geheel en al teen ‘n chiliastiese vertolking van Bybelse profesieë gekant. Die Bybelse scenario dat daar ‘n groot geestelike afval in die laaste dae sal plaasvind, dat die ongelowige mensdom op ‘n verdrukking onder die bewind van die Antichris afstuur, asook op die slag van Armageddon, is totaal met hulle toekomsverwagting van vrede op aarde in botsing. Hulle sê selfs dat dit ‘n vermorsing van tyd is om op die tekens van die tye ag te slaan, en beskou mense wat ‘n studie van profesieë oor die einde van die kerkbedeling maak, as negatief en selfgesentreerd. Rick Warren sê ook dat ons onsself nie met Bybelse profesieë moet bemoei nie. Hy gaan selfs verder en sê dat Christelike fundamentaliste – dit is mense wat alles letterlik glo wat in die Bybel staan – die grootste gevaar vir die opkomende kerk van die 21ste eeu is. Dit is duidelik dat antichiliastiese kerke en Christene natuurlike bondgenote en ondersteuners van die opkomende kerk is, en die valse koninkryksteologie daarvan sonder voorbehoud sal aanvaar.

George Otis van die Sentinel-groep het tydens sy laaste besoek aan Suid-Afrika gesê dat ons reeds in hierdie bedeling ‘n vervulling van die volgende versoek in die Onse Vader-gebed moet verwag: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:10). Hy sê dat ons toestande soortgelyk aan dié in die hemel moet verwag wanneer God se koninkryk oor ons neerdaal. Hy erken dat die duiwel vir baie misleiding en wanorde op aarde verantwoordelik is, maar het ‘n uitgebreide stelsel van strategiese geestelike oorlog ontwerp om Satan se vestings te verbreek en van hom ontslae te raak. Alle pogings om dit te doen, het egter dusver misluk. Die wêreld is steeds in die mag van die Bose (1 Joh. 5:19).

Peter Wagner van die World Prayer Center is ook van mening dat die duiwel se mag verbreek kan word en dat die wêreld spoedig regeer sal word deur magtige apostels en profete wat aan die hoof van verenigde stadskerke staan. Hy noem die opkomende kerk die post-denominasionele kerk van die 21ste eeu en sê dat wanneer Satan onttroon en die groot kerke gevestig is, dit baie moeilik vir enige persoon in só ‘n stad sal wees om verlore te gaan. Hulle aanvaar geensins dat die wêreld in die eindtyd slegter word en op die bewind van die Antichris afstuur nie.

n Ander God en ‘n ander Christus

Die opkomende kerk se godsbegrip verskuif vinnig van ‘n Bybelse Drie-eenheid af na die universele God van alle gelowe. Daar word nou algemeen beweer dat God Homself deur alle gelowe openbaar – nie net deur die Bybel, deur Jesus Christus en deur die Christelike kerk nie. Daar is ook ‘n duidelike verskuiwing weg van monoteïsme af na panenteïsme. Die idee word dus nie meer gehuldig dat daar ‘n persoonlike skeppergod is wat bokant sy skepping verhewe is nie, maar ‘n onpersoonlike god wat in alles is – in alle mense en ook in die natuur. Dit beteken dat mense hom in hulleself kan ontdek en ook klein godjies word.

‘n Baie groot aanslag word ook op die Bybelse voorstelling van Christus gemaak. Alle pogings word aangewend om van Hom net ‘n gewone mens te maak wat op ‘n gelyke vlak met die leiers van ander gelowe is. Dit word gedoen deur sy maagdelike geboorte, sy liggaamlike opstanding uit die dood en sy hemelvaart te ontken. Op grond hiervan word die aanspraak dat Hy God is wat as mens geopenbaar is, verwerp. Hierdie valse siening word ook deur talle teoloë in Suid-Afrika gehuldig – onder meer deur die leiers van die Nuwe Hervorming. Daar word algemeen deur hulle geredeneer dat Jesus net metafories opgestaan het en in die harte van sy dissipels voortleef.

Een van hierdie teoloë, prof. A. van Aarde van die Univ. van Pretoria, sê in ‘n sy boek, Fatherless in Galilee, dat Jesus ‘n buite-egtelike kind, sy moeder ‘n prostituut en sy vader waarskynlik ‘n Romeinse soldaat was. Dit word as rede aangevoer waarom Hy oor ‘n hemelse Vader gefantaseer het. Die ontkenning van Jesus se opstanding word deur verskeie van die plaaslike teoloë ondersteun. Die meeste van hulle ontken ook die bestaan van die duiwel en die hel. ‘n Besoekende teoloog van die Jesus Seminaar in die VSA, John Dominic Crossan, het in Pretoria gesê dat die kruisiging ‘n transendentale daad van kindermishandeling was, en dat ons só ‘n wrede God moet verwerp. Hy het ook gesê dat Jesus nie begrawe is nie en dat sy lyk deur wilde honde gevreet is. Crossan is ná sy lesing lof toegeswaai en sy standpunte is deur verskeie plaaslike teoloë verkondig as deel van ‘n nuwe hervorming in die teologie.

Die postmoderne dekonstruksie van die persoon van Jesus Christus word gedoen om Hom aan die beeld van die Antichris gelykvormig te maak. Dit is die einddoel waarop al die misleiding oor Jesus ingestel is. Hierdie proses gaan nog steeds voort: nadat Jesus van sy goddelike attribute gestroop is, word van Hom die kosmiese christus van alle gelowe gemaak. Dit is in pas met die siening dat God die God van alle gelowe is. De dekonstruksie van Christus gaan nóg verder, want in terme van die panenteïstiese siening van ‘n onpersoonlike, mistiese God, word daar ook van die christusbewussyn as ‘n vorm van innerlike verligting gepraat. Dit word met die Boeddha-bewussyn gelyk gestel. Omdat die opkomende kerk ontken dat daar ‘n duiwel en ‘n Antichris is, sal hulle die Antichris as die Christus aanvaar, omdat hy in baie opsigte met die beeld van hulle gedekonstrueerde Jesus sal ooreenstem.

Openbaringskanaal

Die opkomende kerk word deur die toenemende verwerping van die Bybel as die foutloos geïnspireerde Woord van God gekenmerk. Die rede hiervoor is omdat hulle in die postmoderne denkwyse hulleself van die taal van dogma bevry. Eng, dogmatiese stellings word verwerp – nie net oor die attribute van God en Jesus Christus nie, maar ook moreel-etiese sake soos homoseksualiteit. Só verloor die Skrif sy gesag, en word selfs die heilige boeke van ander gelowe ook as openbaringskanale van God aanvaar.

Hierdie ingesteldheid het na ‘n groot belangstelling in buite-Bybelse openbarings van God se wil gelei, wat hoofsaaklik misties van aard is. Die mistiek is ‘n geestelike terrein wat niks met die Heilige Gees of met die ervaring van die Here se teenwoordigheid te doen het nie. Ons kan óf deur die Heilige Gees tot God se genadetroon nader, óf ons kan deur die beoefening van verskeie tegnieke mistiese, bonatuurlike ervarings hê. Wanneer mense dít doen, dan stel hulle hulself vir regstreekse beïnvloeding deur die duiwel en sy bose geeste oop. Hy kom as ‘n engel van die lig om aan hulle ‘n valse vrede asook ‘n valse godsdiensbelewenis te gee.

Die mees algemene tegniek om ‘n mistiese of transtoestand te beleef, is transendentale meditasie. Dit is van Hindoeïstiese oorsprong, maar word ook in verskeie ander heidense kulture aangetref. Sulke mense sit vir ‘n kwartier of langer doodstil en dink aan niks nie. Om hulle te help om hulle gedagtes leeg te maak, herhaal hulle ‘n enkele woord of ‘n kort sinnetjie oor en oor. Die Hindoes noem dit ‘n mantra, en gebruik gewoonlik die naam van een van hulle gode hiervoor. Christene wat hierdie heidense gebruik by die Bybel probeer aanpas het, gebruik selfs Jesus se naam as ‘n mantra. Ná ‘n ruk gaan só ‘n persoon in ‘n beswyming of soort hipnotiese toestand oor. Omdat hy doelbewus alle rasionele gedagtes afgesluit het, het hy geen nugtere oordeelsvermoë of beheer oor dit wat met hom gebeur nie. In hierdie alternatiewe bewussynstoestand hoor party mense stemme, sommiges kry ingewings oor wat hulle moet doen, terwyl ander net vrede ervaar en van al hulle stres verlig word. Alle mediteerders getuig daarvan dat konflik uit hulle gedagtes verdwyn omdat hulle alle dinge in ‘n geheelverband sien. In hierdie holistiese denke is daar nie meer wesenlike verskille tussen godsdienste, politieke ideologieë en uiteenlopende lewenswyses nie, omdat alles onderdele van ‘n groter geheel is. Hulle noem dit ‘n kosmiese bewussyn.

Christene wat hierdie tegniek by die heidenwêreld oorgeneem het, hou op om te bid en mediteer net. Hulle noem hierdie mistiese gebruik ook kontemplasie of sentreringsgebede. Selfs die humanistiese sielkunde het dié tegniek oorgeneem en in wetenskaplike terme geklee. Hulle noem dit aandagsvernouing ter wille van bewussynsverdieping, en sê dat mense van stres bevry kan word as hulle tydens meditasie van hulle rasionele linkerbrein na hulle kreatiewe regterbrein oorskakel.

Tydens hierdie mistiese belewenis ontmoet sommige mense geestelike gidse wat hulle na hulle kinderjare of selfs na hulle vorige lewe terugvoer sodat hulle ou konflikte en probleme kan verwerk en regstel. Die idee van reïnkarnasie kom van die Hindoes af. Ander maak weer met die geeste van afgestorwenes kontak, en beoefen sodoende spiritisme. Daar is geen perke aan die okkultiese ervarings wat mense kan hê as hulle met heidense gebruike soos dié eksperimenteer nie. Dit word vir hulle ‘n selfverlossingsleer waardeur innerlike genesing bewerkstellig word. Op hierdie mistiese reis na binne ontdek hulle die god binne-in hulleself (the god within) wat nie die ware God van die hemel is nie, maar die god van hierdie wêreld wat op die troon van alle ongeredde mense se harte sit.

Moenie deur selfinkering en ‘n ydele herhaling van woorde na die mistiese vlakke van jou onderbewussyn probeer afdaal nie, want daardeur sal jy ‘n poort vir beïnvloeding deur ‘n valse god skep. Daar is ook in Kaapstad ‘n Sentrum vir Christelike Spiritualiteit waar baie mense geleer word om hierdie tegniek te beoefen. Hulle bied ook retraites op stil vakansie-oorde aan om mense te leer mediteer. Ander hulpmiddels wat gebruik word, is joga-ontspanningsoefeninge en die bewandeling van labirinte.

Daar is verskeie ander gebruike wat ook misties van aard is, en tot groot dwalings aanleiding kan gee. Hieronder is buite-Bybelse openbarings van God se wil deur die spreek in tale, asook deur drome en visioene. Daar word selfs kursusse aan mense gebied om hulle drome te interpreteer. ‘n Mistiese gebruik wat baie gewild is, is val in die Gees. Mense raak in ‘n beswyming en val plat op die vloer. ‘n Vreemde gees verkry beheer oor hulle: sommiges lag onbeheerd en ander maak weer snaakse dieregeluide soos blaf, brul, kraai of blêr. Op grond van hierdie ervaring beskou sulke mense hulleself as gered of geheilig, terwyl hulle in die toestand van beswyming geen geloof kan beoefen nie – hulle het net ‘n bedenklike ervaring gehad. Dit is alles kenmerke van die opkomende kerk van die 21ste eeu.

Wat moet ons doen?

Meer as ooit tevore moet ons ag slaan op die Here se waarskuwings: “Pas op dat niemand julle mislei nie (Matt. 24:4); vlug vir valse leraars wat van die gesonde leer afwyk en fabels verkondig omdat hulle mense se gehoor wil streel (2 Tim. 4:3-4); toets die geeste of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan (1 Joh. 4:1); stry kragtig vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is (Judas 1:3); hou maar net vas wat jy het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26). Moet onder geen omstandighede deel van die eindtydse verval word nie: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1).

In die postmoderne denkklimaat van openheid vir ander oortuigings word die deur wyd vir ‘n vreemde, multigodsdienstige belewenis oopgemaak. Dit is waarlik ‘n tyd waarin die Christelike fondamente van die samelewing omver gewerp word. Die psalmis het gesê: “As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? … Die Here toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Hy sal op die goddelose… vuur en swawel laat reën” (Ps. 11:3-6).

Die erg ontwrigtende omstandighede waarin ons verkeer, is volgens die Bybel ‘n tyd van toetsing vir die regverdige. Die Here sê Hy gaan sy dorsvloer deur en deur skoonmaak, sodat Hy die koring in sy hemelse skuur kan saambring en die kaf met vuur verbrand” (Luk. 3:17). Een van die min voordele van hierdie tyd van postmoderne dekonstruksie en verval is dat ons nie meer deur die tradisies en gebooie van mense gelei en gemanipuleer hoef te word nie (Matt. 15:9). Elkeen moet nou wys waar hy of sy werklik staan – óf by die evangeliese Christendom óf by die vervallende maar verenigende wêreld wat besig is om die weg vir die verskyning van die Antichris voor te berei. In ‘n tyd soos dié sal die hemelse Bruidegom sy bruid kom haal. Is u hiervoor gereed?


Prof. Johan Malan


 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *