Ons beleef tans ’n wydverspreide oplewing van die Judaïsering van die Christelike geloof. Dit herinner sterk aan toestande wat in die eerste eeu geheers het, soos beskryf in Handelinge 15 en in die sendbrief aan die Galásiërs. Hierdie teologiese benadering bestaan uit ’n vermenging van Ou- en Nuwe-Testamentiese beginsels en staan bekend as Christelike Judaïsme of die Hebreeuse Wortels Beweging.
Die dryfkrag agter hierdie beweging is ’n vasberade poging om die Joodsheid van Jesus te beklemtoon: nie net kultureel en taalkundig nie, maar ook in ’n godsdienstige verband as ’n rabbi wat die Tora en die Sabbat streng onderhou het. Hulle uiterste eensydigheid blyk uit die feit dat hulle:
- Jesus eerder as die Seun van sy aardse vader in Israel as die Seun van sy hemelse Vader uitbeeld;
- die Joodse konteks van sy bediening ten koste van die wêreldwye aard daarvan beklemtoon;
- voorkeur gee aan die Hebreeuse vorm van sy name bo die vergriekste weergawes daarvan;
- die Christelike Sondag met die Joodse Sabbat vervang; en
- die Tora as van kardinale belang ag in die Nuwe-Testamentiese bedeling van genade.
In die proses vertolk hulle die basiese aard van die evangelieboodskap heeltemal verkeerd.
Die gevare van hierdie beweging is van ’n wesenlike aard vir die Christelike verlossingsleer én ook vir die riglyne wat vir ’n heilige lewe aangebied word, daarom sal daar duidelike antwoorde op hulle onbybelse aansprake gegee moet word. Hierdie gesprek moet verkieslik by die kern van die Christelike geloof begin, naamlik die gebeure rondom die kruisiging en opstanding van Christus. Verskeie volgelinge van die Hebreeuse Wortels Beweging is ten gunste van ’n opstanding van Jesus op die Joodse Sabbat, ten einde geloofwaardigheid aan hulle siening te gee dat Jesus tot ’n Ou-Testamentiese godsdienstige konteks beperk moet word. Volgens hulle is Sondagaanbidding in stryd met die Tora en dus ’n dwaling.
Goeie Vrydag en Paassondag
Dit is belangrik om duidelikheid te verkry oor die tyd en omstandighede van die Here Jesus se soendood net buite Jerusalem op Goeie Vrydag, byna 2 000 jaar gelede, asook sy opstanding op die eerste dag van ’n nuwe week. Die historiese gebeurtenis sowel as die diep geestelike betekenis van Christus se kruisiging en opstanding moet duidelik verstaan word. Daar is steeds meningsverskille oor die dag waarop Jesus gekruisig is, daarom moet ons uit die Bybel groter duidelikheid oor die gebeure van Paasnaweek verkry.
Die Here Jesus vergelyk sy begrafnis en opstanding uit die dood met die ondervinding van Jona: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matt. 12:40). In Jona 1:17 staan daar: “… en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.” John Hanna (1985:1467) sê die volgende hieroor: “Die uitdrukking ‘drie dae en drie nagte’ dui nie noodwendig ’n periode van 72 uur aan nie, omdat dit een dag en gedeeltes van twee ander dae kan wees.” Vergelyk in hierdie verband ook Ester 4:16 en 5:1, waar Ester ’n vastyd van drie dae en drie nagte beveel het, maar op die derde dag, voordat die dag verby was, het sy reeds haar doel met die vas bereik.
Sommige mense het ’n probleem met die siening dat Jesus nie drie volle dae en nagte (m.a.w. 72 uur) in die graf was nie, en wend pogings aan om sy kruisiging van die Vrydag af na die Woensdag te vervroeg. Die feit is egter dat die Jode inklusiewe tydrekening beoefen waarin ’n gedeelte van ’n dag ook as ’n volle dag beskou word. Louis Barbieri (1983:47) sê die volgende oor Matthéüs 12:40: “Aangesien die Jode ’n deel van ’n dag as ’n vol dag beskou het, sou die ‘drie dae en drie nagte’ kon inhou dat die kruisiging Vrydag was.” In ’n addendum tot die Strong’s konkordansie, Harmony of the Gospels, word 41 gebeurtenisse wat plaasgevind het gedurende die week van Jesus se kruisiging, vanaf sy intog in Jerusalem op ’n Sondag tot met sy kruisiging en begrafnis die volgende Vrydag, saam met Skrifverwysings gelys (Strong, 1990). Hierdie opeenvolging van gebeure bevestig bo alle twyfel dat Hy op ’n Vrydag gekruisig is.
Volgens die Bybel, asook ander ondersteunende bronne, is Jesus die Vrydagmiddag kort voor die aanbreek van die Sabbat begrawe, en het Hy vroeg op die eerste dag van die volgende week (Sondag) opgestaan. Die dag waarop Hy gekruisig is (Vrydag), was dus die eerste dag van die Paasgebeure, Saterdag (die Sabbat) was die tweede dag, en Sondag (sy opstandingsdag) die derde dag. In die Joodse chronologie word só ’n tydperk as “drie dae en drie nagte” beskryf, of bloot net as “drie dae.” Joodse dae strek vanaf sononder tot sononder. Die derde dag ná die kruisiging het dus die Saterdagaand teen sononder al begin.
Die Emmausgangers het hierdie feite bevestig. Die dag toe Jesus opgestaan het (die Sondag), was hulle op pad na Emmaus (Luk. 24:13). Onbewus daarvan dat Jesus self by hulle aangesluit het, vertel hulle van die gebeure rondom sy kruisiging wat vroeg die Vrydagoggend begin het, en voeg by: “Ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel toe hulle vroeg by die graf was; en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle ook gekom en gesê dat hulle ’n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe” (Luk. 24:21-23). Sondag was dus die derde dag sedert die kruisiging van Jesus, wat die vorige Vrydag plaasgevind het.
Op hierdie Sondagmiddag, die derde dag, toe die Emmausgangers met Jesus gepraat het, het Hy etlike ure vroeër reeds uit die graf opgestaan: “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdalena vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was” (Joh. 20:1). Nadat Jesus met die Emmausgangers in gesprek was het Hy, nog steeds op die dag van sy opstanding, ook aan sy dissipels verskyn (Joh. 20:19).
Jesus was dus net ’n gedeelte van die derde dag in die graf, net soos wat Hy slegs ’n gedeelte van die voorafgaande Vrydag in die graf was. Die Jode ag dit nietemin as drie dae en nagte, al is net gedeeltes daarvan ter sprake, en het dus nie ’n probleem met hierdie vorm van tydsberekening nie. Die Emmausgangers se gesprek skakel alle spekulasie oor ’n vroeëre dag vir die kruisiging uit. Indien Christus Woensdag (die vierde dag van die week) gekruisig en begrawe is, dan sou dit op die volgende Sondag al reeds die vyfde dag gewees het sedert dit gebeur het, maar hierdie manne sê duidelik dat dit “die derde dag” was!
Joodse tydrekening
Omdat ’n gedeelte van ’n dag in inklusiewe tydrekening as ’n volle dag beskou word, kan ’n week (bv. van Woensdagmiddag af tot die volgende Woensdagmiddag) ook as agt dae beskryf word omdat altwee Woensdae as volle dae getel word. Die loofhuttefees in Israel word vir ’n week lank, van die 15de tot die 22ste dag van hulle sewende maand gevier: “Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die HERE. Op die eerste dag moet daar ’n heilige vierdag wees … . Sewe dae lank moet julle aan die Here ’n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle ’n heilige vierdag wees” (Lev. 23:34-36). Die laaste dag van hierdie week, naamlik die agtste dag, was die groot dag van die fees (vgl. Joh. 7:2, 37).
In Levítikus 23 staan daar die volgende oor die fees van die 50ste dag: “Dan moet julle tel van die dag ná die Sabbat, … sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende Sabbat moet julle vyftig dae tel” (Lev. 23:15-16). Hierdie 49 dae tussen ’n Sondag en ’n ander Sondag sewe weke later, word 50 dae genoem omdat die eerste en laaste Sondae beide as volle dae getel word. In die Nuwe Testament is hierdie twee feeste vervul tydens die opstanding van die Here Jesus op ’n Sondag en die uitstorting van die Heilige Gees sewe weke later, ook op ’n Sondag. “Pinkster” beteken “Vyftigste” – dit is die fees van die vyftigste dag.
Die Ou Testamentiese fees van die eerste vrugte is op sy regte tyd in die Nuwe Testament vervul, naamlik op die Sondag waarop dit begin het en die Sondag waarop dit sewe weke later afgesluit is. Let op die duidelike bepalings vir albei feeste: “… die dag ná die Sabbat.” Sondag is die eerste dag van ’n nuwe week, of dispensasie, in God se raadsplan vir die mens. In die huidige bedeling word die opstanding van Jesus spontaan elke week op Sondae as die dag van die Here gevier.
Die fees van die eerstelingsgerf in Levítikus 23 is die vroegste aanduiding in die Ou Testament van ’n toekomstige Sondagviering as ’n Christusfees. Op dié dag verkondig ons die boodskap: “Hy het opgestaan – Hy leef!” Jesus self het op die Sondag van sy opstanding die eerste preek van die nuwe bedeling gelewer, asook ’n week later, weer op ’n Sondag, die tweede een (Joh. 20:19-29). Daarna het die dissipels gereeld op Sondae bymekaargekom (vgl. Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:1-2). Die uitstorting van die Heilige Gees as die geestelike toerusting vir wêreldevangelisasie, het ook op ’n Sondag plaasgevind.
Die kruisiging van die Here Jesus op Goeie Vrydag, sy opstanding drie dae later op ’n Sondag, asook die uitstorting van die Heilige Gees op ’n Sondag, is kerndatums op die Christelike kalender. Sy hemelvaart het op ’n Donderdag plaasgevind, 40 dae ná sy opstanding en tien dae voor die uitstorting van die Heilige Gees. (Vir ’n volledige bespreking van die persoon en werke van Jesus Christus, sien Malan, 2012a).
Die kruisigingsdatum volgens Daniël
In Daniël 9:24-27 word daar ’n duidelike profesie oor die tyd van die Messias se kruisiging aangebied. Daniël het tydens die Babiloniese ballingskap van Israel oor die herstel van Jerusalem geprofeteer, en aangedui dat daar van die vergunning af om Jerusalem te herbou, ’n aftelling van 69 jaarweke sou volg tot by die kruisiging van die Messias: “… van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle …” (Dan. 9:25). Die herbouing van Jerusalem het 7 jaarweke lank geduur; daarna het nog 62 jaarweke gevolg totdat die Gesalfde (Christus) deur Israel en die Romeinse heersers “uitgeroei” is (Dan. 9:26).
In hierdie profesie word daar van profetiese jare van 360 dae elk gebruik gemaak, waarin elke maand 30 dae het (vgl. Op. 11:2-3, waar 42 profetiese maande presies 1260 dae lank is. Uit Gen. 7:11, 24 en 8:4 is dit ook duidelik dat die sondvloed vyf maande van 30 dae elk geduur het, m.a.w. 150 dae). Die rede vir die gebruik van die profetiese kalender was om te verseker dat daar ongeag die gebruik van ander kalenders (bv. Israel se maankalender of die Romeine se sonkalender) steeds by ’n presiese datum vir die kruisiging uitgekom kon word.
Daar het 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 v.C. aan Nehemía toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh. 2:1-8), tot met die kruisiging van die Messias op 14 Nisan 32 n.C. Prof. J.M. Schepers van die Universiteit van Johannesburg (vroeër die RAU) het in ’n artikel (1984:7-10) daarop gewys dat 483 profetiese jare van 360 dae elk, ’n totaal van 173 880 dae verteenwoordig. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op die Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke dus tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop, en is beëindig op die Vrydag waarop die Here Jesus gekruisig is.
Die Pasga
Die vervulling van die Ou Testamentiese Pasga was met die kruisiging van die vlekkelose Lam van God wat in die volheid van die tyd mens geword het om sy lewe vir ons af te lê. Petrus het na die onberekenbare offer van die Lam verwys toe hy gesê het: “… julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Paulus sê: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7); en ook: “… sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Heb. 9:22).
Weens die tipologiese aard van die Pasga as ’n heenwysing na die offer van die Lam van God, was dit duidelik dat hierdie fees tydens een van die toekomstige vierings daarvan vervul sou word. Die Here Jesus is inderdaad op die dag van die Pasgaviering gekruisig. Volgens Markus 14:1-2 wou die Jode só ’n situasie vermy: “En die Pasga … sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien ’n oproer onder die volk kom nie.”
Die Jode kon egter nie daarin slaag om die stiptelike vervulling van hierdie fees te voorkom nie, en Jesus is op Vrydag die 14de Nisan (11 April 32) gekruisig. Hy het op die negende uur (3 nm.) die asem uitgeblaas (Mark. 15:34-37), op presies dieselfde uur toe die lam tydens die eerste Pasga in Egipte geslag is. Pilatus was verwonderd dat Jesus so gou gesterf het, en het toestemming vir sy begrafnis verleen (Mark. 15:42-45). Dit is nog voor die Vrydagaand 6-uur afgehandel toe die Sabbat sou begin en niemand dan begrawe kon word nie (Luk. 23:52-54; Joh. 19:31).
Ons lees die volgende oor die kruisigingsdag in Markus: “En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat, kom daar ’n vername raadslid, Josef van Arimathéa … om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra” (Mark. 15:42-43). John Grassmick (1983:191) sê die volgende oor dié teks: “Jesus se begrafnis het amptelik sy dood bevestig. Die uitdrukkings voorbereiding en voorsabbat is tegniese terme vir Vrydag wat op die dag voor die Sabbat dui, soos wat Markus aan sy nie-Joodse lesers verduidelik. Omdat daar geen werk op die Joodse Sabbat gedoen mag word nie, is al die voorbereidings daarvoor op Vrydae gedoen. Hierdie verwysing bevestig die feit dat Jesus op ’n Vrydag gekruisig is.”
Vrydag (die Voorsabbat, of Dag van Voorbereiding) en Saterdag (die Sabbat) is die enigste twee dae in die Joodse week wat spesifieke name het. Die ander dae word bloot genommer, bv. die eerste dag van die week (Sondag), die tweede dag (Maandag), ens. Indien ’n godsdienstige fees soos die Pasga (14 Nisan) op enige weeksdag gevier word, word hierdie dag wel soos ’n Sabbat gevier, maar nie self ’n Sabbat genoem nie; die Sabbat is die sewende dag van die week. Ons kan ook vandag godsdienstige feeste, en selfs Geloftedag, soos ’n Sondag vier – maar dit beteken nie dat die dag self ’n Sondag word nie.
Jesus se kruisiging op die Dag van Voorbereiding (Vrydag), blyk duidelik uit Johannes 19: “En dat die liggame nie op die Sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit voorbereiding was – want die dag van daardie Sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word. … [M]aar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom” (Joh. 19:31-34). Die Sabbat wat direk op die Dag van Voorbereiding en Christus se kruisiging gevolg het, word as ’n groot dag beskryf omdat dit tegelyk die weeklikse Sabbat en die belangrike eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brode was.
Lukas bevestig ook die feit van Jesus se begrafnis op die Dag van Voorbereiding: Jesus se liggaam “is in linne toegedraai en neergelê in ’n graf wat uit ’n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die Sabbat wou aanbreek” (Luk. 23:53-54). Die Sabbat wat op die punt was om teen sononder daardie aand aan te breek, was sonder enige twyfel die weeklikse Sabbat. Indien dit die Pasga was wat sou aanbreek, dan beteken dit dat Hy ’n dag voor die Pasga-fees gekruisig is en dat die Pasga nie dag en datum vervul is nie. Hy is juis op die feesdag gekruisig, die dag toe die slag van die offerlam in Egipte die begin van Israel se uittog uit slawerny was.
Laat ons onwrikbaar aan die belydenis van Christus se soendood en opstanding vashou, sonder om by twispunte oor die spesifieke datum daarvan betrokke te raak. Dit word egter al hoe belangriker om konkrete historiese verwysingspunte vir hierdie belangrike gebeurtenisse te hê, omdat ernstige teologiese dwalings aan alternatiewe datums gekoppel word.
Vervulling van die wet
Verskeie pogings word aangewend om ’n samevloeiing van die ou en nuwe verbonde te bewerk, eerder as om te erken dat die ou verbond in die nuwe verbond vervul is. Ná die koms van Christus het ons toewyding en diens aan God ’n totaal nuwe vorm en karakter verkry. Die vervulling van ou gebruike en reëls laat hoegenaamd geen ruimte vir die voortsetting van Ou-Testamentiese verbondstekens soos die besnydenis en die Joodse Sabbat nie. Die groot Messiaanse Joodse evangelis het aan sy tydgenote in die eerste eeu gesê: “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie” (Gal. 5:2). ’n Daad wat in die ou verbond sterk aanbevole was, was in die nuwe verbond totaal buite orde!
Die feit moet duidelik aanvaar word dat die ou verbond deur ’n nuwe vervang is: “As Hy sê ’n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning” (Heb. 8:13). Dit is ’n groot dwaling om die wet en genade te probeer vermeng, want daar word afbreuk aan die genade van Christus gedoen om dit deur die Tora te probeer aanvul. Só ’n poging het vernietigende gevolge vir ’n mens se geestelike lewe: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4).
Ons “is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:14). As ’n uiterlike simbool van redding uit genade vier ons elke Sondag Jesus se opstandingsdag, wat die formele begin was van ’n nuwe dispensasie in God se heilsplan vir die mens. Hy het sy liefde vir ’n verloregaande wêreld bewys deur sy Seun te gee om as ’n losprys vir ons sonde te sterf.
Die liefde is die vervulling van die hele wet – dit sluit seremoniële sowel as morele wette in. Die woord “vervul” beteken volgens die Strong’s konkordansie: “die beëindiging van ’n tydperk of taak; voleindig; afhandel; afsluit.” Die wet is nie in Christus ontbind nie, maar vervul. Alle verwysings na die opdragte van Christus in die Nuwe Testament, vloei voort uit een enkele opdrag, en dit is om ’n hart te hê wat met goddelike liefde vervul is (Matt. 22:37-39). Hierdie seën kan net in die geloof verkry word op grond van die volbragte werk van Christus aan die kruis. So ’n lewe kan beskryf word as “Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid” (Kol. 1:27). Hy is die verpersoonliking van God se liefde vir ons.
As ons gewortel en gegrond is in die liefde van Christus sal ons sy goddelike liefde, wat alle kennis oortref, ten volle begryp sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:17-19). So ’n persoon sal nooit terugkeer na die elementêre beginsels en skaduagtige gebruike van die Ou-Testamentiese wet nie omdat hy wat werklik liefhet, die wet vervul het (Rom. 13:8–10). Hy staan voor die uitdaging om uitvoering aan die meer verhewe eise van God se liefde te gee, soos die navolging van Christus, vervulling met die Heilige Gees, volkome heiligmaking, aanhoudende gebed, wêreldevangelisasie, die verkondiging van die Woord by elke geleentheid, die verwerping van die verdorwe beginsels van ’n vervalle wêreld, en betrokkenheid by geestelike oorlogvoering deur die volle wapenrusting van God aan te trek en elke gedagte tot die gehoorsaamheid aan Christus gevange te neem. Die Ou-Testamentiese wet kom nie eers naby aan die bevordering van sulke Christelike deugde nie.
Ons word nie van sonde oortuig deur die Tora nie maar deur die Heilige Gees wat ons Leidsman en Leermeester is. Die standaard waarteen ons gemeet word, is nie die wet nie maar die sondelose lewe van Christus. Die maniere waarop ons uitvoering gee aan sy wet van die liefde bepaal die aard van ons geestelike lewe. Ons gehoorsaam slegs die enkelvoudige gebod van die liefde, alhoewel dit baie verskillende toepassings het. Jesus het aan sy dissipels gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh. 13:34). ’n Veranderde hart is nodig om aan hierdie opdrag gehoor te kan gee, en dit is presies wat die Heilige Gees vir ons kom doen het (Rom. 5:5).
Op ’n soortgelyke wyse bestudeer ons die Ou-Testamentiese feeste om beter te kan verstaan hoe ons onsself aan God moet toewy en Christus daagliks beter te kan dien. Dit word gedoen sonder om die feeste van Levítikus 23 in hulle oorspronklike vorm te vier. Ons let op hulle tipologiese en profetiese aard en ondersoek dan die Nuwe Testament om te sien hoe die eerste vier feeste vervul is, en ook om vas te stel hoe die laaste drie vervul gaan word. Hoewel nuwe aspekte van God se plan vir die mensdom openbaar word, bly sekere beginsels, asook sy basiese program, onveranderd.
Ongelukkig is daar ’n vinnig groeiende beweging onder sekere Christene in die wêreld om meer wetties te raak in die beoefening van hulle geloof. As gevolg hiervan word die Tora onderhou, asook die Joodse Sabbat. Die Messiaanse Jood, Victor Buksbazen (1954:61-62), beklemtoon die feit dat die besnydenis en die Sabbat net op Judaïsme betrekking het:
“Die Sabbat is diep in die hart van Judaïsme gevestig en is ’n sentrale deel van die Joodse lewe. Die Sabbat en die besnydenis is twee belangrike kenmerke van Judaïsme. Niemand kan in die rabbynse sin as ’n ware gelowige Jood beskou word sonder dat hy beide onderhou nie. Sabbat beteken rus. Dit is by uitstek en spesifiek ’n Joodse rusdag wat deur God by Sinai aan die kinders van Israel gegee is deur sy dienskneg Moses … Die Sabbat is eksklusief Israel se erfenis wat onder die wet gegee is aan mense wat onder die wet is. Die nakoming van die Sabbat soos oorspronklik deur God bepaal is, veronderstel die bestaan van ’n heilige tempel, ’n priesterlike orde wat deur God ingestel is, asook ’n offerdiens (vergelyk Núm. 28:9-10). Soos wat omstandighede vandag is, kan ’n Jood nie die Sabbat onderhou in sy Bybelse verband nie, omdat die noodsaaklike toestande vir die nakom van sulke voorskrifte nie bestaan nie. Wat die Jode vandag probeer onderhou is die rabbynse weergawe van die Sabbat. Dit is egter ’n aansienlik veranderde Sabbat en dit is selfs nog meer onmoontlik om dit streng na te kom.”
In die vroeë kerk was daar ’n hewige stryd teen die Judaïseerders wat geglo het dat nie-Jode wat Christene word, eers Jode moes word wat aan al die vereistes van die wet voldoen. Die hoofgroep het egter geglo dat Christene nie onder ’n verpligting teenoor die wet gestaan het nie. Op ’n spesiale vergadering van die apostels in Jerusalem is daar besluit dat gelowiges uit die nie-Joodse volke nie onder die wet is nie (Hand. 15:1-29). Riglyne is gegee vir behoorlike morele gedrag, maar sonder enige melding hoegenaamd van die Tora en die Sabbat.
Buksbazen (1954:72) bied die volgende vergelyking aan tussen die Sabbat van die Jode en die Sondagaanbidding van Christene:
Die Joodse Sabbat | Die Christelike Sondag |
Die Sabbat, of die sewende dag van die week, herdenk die afgehandelde fisiese skepping – Gen. 2:1-3. | Die eerste dag van die week is opstandingsdag en dui op afgehandelde verlossing – Matt. 28:1-6. |
Die Sabbat is ’n verbondsteken tussen God en sy volk Israel: “Spreek jý met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ’n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig” (Ex. 31:13). | Die eerste dag van die week dui op gemeenskap tussen die kerk en die Here Jesus: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek” (Hand. 20:7). |
Onderhouding van die Sabbat is deur die wet vereis en oortreders met die dood gestraf: “Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik gedood word” (Ex. 31:14). | Sondag is ’n dag van vrywillige en spontane aanbidding sonder enige wetlike verpligting – ’n dag van getuienis en arbeid vir die Here. |
Die Sabbat is ’n noodsaaklike deel van die verbond van werke. | Sondag verteenwoordig die verbond van genade. |
Die Sabbat is die hoogtepunt van die week, en daarop word die mens beloon vir sy moeitevolle arbeid. | Sondag beklemtoon wat God vir die mens gedoen het deur sy eniggebore Seun. |
In Jesus Christus het ons die rus van die Here ingegaan. Dit is die vervulde betekenis van die Ou-Testamentiese Sabbat. (Vir ’n verdere bespreking van die Sabbat en die Sondag, sien Malan, 2008, en vir meer inligting oor die sewe Joodse feeste van Levítikus 23, sien Malan 2012b).
Die vertaling van Bybelse name
Een van die implikasies van ’n terugkeer na die Ou-Testamentiese wet is die oorskakeling na die eksklusiewe gebruik van Hebreeuse name vir die Here Jesus en sy Vader. ’n Beweging terug na hierdie name gaan gepaard met ’n vasberade poging om die Christelike geloof te Judaïseer en sy wortels na die Joodse kultuur te herlei. Die Sacred Name Beweging gaan dus gepaard met die Hebrew Roots Beweging.
Die argumente van hierdie beweging is grootliks op onkunde en valse aannames gebaseer. Sommige onder hulle gaan selfs so ver om te beweer dat die Griekse name vir God en Jesus Christus, wat in bykans alle Bybelvertalings gebruik word, op afgode dui. Daar word bv. gesê dat Jesus afgelei is van Je-Zeus, wat beteken: Seun van Zeus (’n bekende afgod in die Griekse mitologie). Om duidelikheid oor hierdie omstrede saak te kry, sal ons kortliks die gebruik van verskillende tale in Bybelse tye moet ondersoek.
Tydens die Assiriese en later Babiloniese ballingskap van Israel, en ook daarna, het die meeste Jode verleer om Hebreeus te praat. Hulle het Aramees en Grieks aangeleer en as omgangstale gebruik. Aramees was ’n omgangstaal wat deur baie volke in die hele Midde-Ooste gepraat is. Dit was ’n mengsel van Siries en Hebreeus. “Aram” is die Bybelse naam vir Sirië. In die tyd van Jesus was Aramees ook die omgangstaal in Israel. Jesus en sy dissipels het ’n Galilese dialek van Aramees gepraat. Die kennis van Hebreeus was beperk tot geleerde Jode, bv. die rabbi’s en skrifgeleerdes.
In Aramees is daar na Jesus Christus verwys as Eashoa Msheekha, in Hebreeus as Jashua (of Jeshua) Ha Mashiach, en in Grieks as Iesous Christos (Iesous met die ongeaspireerde “i” word as Jesous uitgespreek). Al die boeke van die Nuwe Testament is oorspronklik deur die direkte inspirasie van die Heilige Gees in Grieks geskryf (vgl. 2 Tim. 3:16; 2 Pet. 1:21), en hierin word na God as Theos, Here as Kurios, en Jesus Christus as Iesous Christos verwys. Dit is lasterlik om te beweer dat dit name van afgode uit ’n nie-Joodse kultuur is. Die Griekse name vir God (Theos en Kurios) was toe al vir meer as twee eeue lank gevestig en ook in Israel algemeen in gebruik. Dit was nooit omstrede nie.
Die naamwoorde God of gode kan egter as generiese terme ook na afgode verwys, afhangende van die konteks waarin dit gebruik word. So bv. word die duiwel as die god (theos) van hierdie wêreld beskryf (2 Kor. 4:4). Dieselfde reël geld ook in Hebreeus, waar Elohim na sowel God as afgode kan verwys. In Exodus 20:2-3 staan daar: “Ek is die Here (Jahweh) jou God (Elohim) … . Jy mag geen ander gode (elohim) voor my aangesig hê nie.” Beide die Griekse en Hebreeuse naamwoorde én eiename is oorspronklik deur die Heilige Gees gebruik toe Hy die Bybelskrywers geïnspireer het, en dit is foutief om te beweer dat die Griekse name swak vertalings van die Hebreeuse name is.
In die tyd van Jesus was Aramees die algemene omgangstaal in Israel. Die stelling in Handelinge 21:40 dat Paulus die volk in Hebreeus toegespreek het, behoort meer korrek vertaal te word as “in ’n Hebreeuse dialek” – in hierdie geval Aramees. Die Amplified Bible asook die Modern King James Version sê: “… he spoke to them in the Hebrew dialect.” Die NIV vertaal dit só: “… he said to them in Aramaic”. Stanley Toussaint (1983:417) sê: “When Paul was granted permission to speak to the mob, he addressed them in Aramaic, the common language of Palestinian Jews, used throughout the Middle East at that time.” Baie van hulle was ook Grieks magtig.
Die Septuagint is ’n Griekse vertaling van die Ou Testament, wat in die 3de eeu voor Christus vir gebruik deur Griekssprekende Jode in Alexandrië, Egipte, opgestel is. Dit is baie algemeen gebruik deur Hellenistiese Jode wat oral in die Griekse ryk verspreid geraak en gaandeweg verleer het om Hebreeus te praat. Hierdie geskrif het ook aan nie-Jode insae in Israel se geskiedenis, kultuur en godsdienstige ontwikkeling gegee. Septuaginta is die Latyns vir 70 en verwys na 70 Joodse geleerdes wat die vertaling gedoen het; daarom word dit ook as LXX afgekort. Sommige bronne beweer dat daar 72 vertalers was – ses uit elk van die 12 stamme van Israel.
In aansluiting hierby is alle boeke van die Nuwe Testament aanvanklik in Grieks geskryf. Dit is waarom ons op verskeie plekke die woorde vind: “… as dit vertaal word …” (sien Matt. 1:23; Mark. 5:41; 15:22; 15:34; Joh. 1:39; 1:42; Hand. 4:36; 9:36). Dit dui op sekere Aramese en Hebreeuse woorde wat in Grieks vertaal is. Die skrywers het meesal uit die Septuagint aangehaal en met enkele uitsonderings uit die Hebreeus en Aramees. Daar is ruim bewyse in die evangelies dat aanhalings uit die Septuagint gedoen is, en nie uit die Hebreeuse teks van die Ou Testament nie.
Hebreeuse teks toon geen vokale aan nie en is eers baie later gevokaliseer. Dit is onder andere waarom die sogenaamde “Bybelkodes” nie kan werk nie. Aramese woorde word ook in die Nuwe Testament gevind, soos Fariseër en Abba. Skrywers het uit die Griekse Septuagint aangehaal, want dit was die voertaal tydens die skryf van die Nuwe Testament .
Daar is algemene konsensus onder kenners van die oorspronklike tale dat skrywers van die Nuwe Testament hoofsaaklik uit die Septuagint aangehaal het. Die Ou Testamentiese gedeeltes waaruit Romeine 3:13-18 en Hebreërs 1:6 aanhaal, verskyn nie eers in die Hebreeuse tekste nie, maar het alleenlik in die Septuagint behoue gebly. Toussaint (1983:782) sê onder andere die volgende oor Hebreërs 1:6: “The reference is to the Second Advent when the kingly prerogatives of the Son will be recognized with open angelic worship (cf. Ps. 97:7 where the LXX rendering ‘angels’ correctly renders the text).”
In die lig van hierdie feite is dit onmoontlik dat die Godsnaam net in Hebreeus gebruik behoort te word. Niemand weet in elk geval presies hoe die Godsnaam in Hebreeus uitgespreek word nie. Die Tetragram (vierletterwoord, JHWH), kan in gevokaliseerde vorm op baie verskillende maniere uitgespreek word, o.a. Jahweh, Jehowah, Jahwuh en Jahuweh. Daar is ook nie eenstemmigheid oor hoe Jesus se Naam in Hebreeus uitgespreek word nie – Jeshua, Jahshua of Jahushua.
Dit is dus nie nodig om nou ’n revolusie oor die name van God te ontketen nie. Ons moet wel seker maak oor hóé ons hierdie name gebruik en eerbiedig, en dit teen enige semantiese veranderings of vervalsings beskerm. Alles hang af van die inhoud wat aan ’n generiese term gekoppel word, soos blyk uit die konteks waarin dit gebruik word. God kwalifiseer Homself dikwels in die Bybel as die Almagtige God, die Skepper van die hemel en aarde, die God van Abraham, Isak en Jakob, die Ewige Ek Is, ens. Jesus word ook gekwalifiseer as Here, Christus, Lam van God, ens. Wanneer ’n naam of begrip swak gekwalifiseer word, kan dit van sy oorspronklike betekenis verloor; dan kan selfs Jesus ’n ander Jesus word, en Christus ’n valse Christus. Om hierdie rede is dit so belangrik om van al die name en attribute van God en die Here Jesus kennis te neem, want dan kan ons teen verskralings en vervalsings daarvan waak.
Persone of Christelike groepe wat ten spyte van hierdie feite voortgaan om net Hebreeuse weergawes van eiename en plekname te gebruik, en selfs die Bybel so oor te vertaal (bv. Woord en Getuienis deur Elim Bedieninge, 2004), is met ’n onnodige aksie van hebraïsering besig. Daar is verskeie slaggate op hierdie pad, waaronder ’n wettiese verlossingsleer en lewenswyse volgens die Tora, die onderhouding van Joodse feesdae (insluitend die Ou-Testamentiese Sabbat), en selfs die ontkenning van die Drie-eenheidsleer.
Ons Christelike identiteit
As gelowiges uit die nie-Joodse wêreld moet ons seker maak dat ons nie ons identiteit met dié van Israel verwar nie, want dit sal na ’n verkeerde oriëntasie lei. Ons het waardering vir Israel, maar ons identifiseer as gelowiges net met Jesus Christus – nie as ’n Jood nie, maar spesifiek as die Seun van sy hemelse Vader. Hy het gekom om die beginsels van die koninkryk van die hemel aan ons te leer, en nie die beginsels van die Joodse kultuur of die eise van hulle aardse koninkryk nie.
Kom ons kyk na twee beelde wat ons verhouding met Christus uitbeeld, naamlik dié van die wynstok en die olyfboom. Dit moet by ons ’n vaste oortuiging en praktiese ervaring wees dat die Here Jesus die Bron van ons lewe is. Hy is die wynstok waarin ons geënt is, daarom het Hy vir sy dissipels gesê: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:5). Indien ons naby aan Hom leef en in Hom bly, sal dit geestelik goed gaan met ons en sal ons vrugte dra wat by die bekering pas. Ons moet geen plek vir die suurdeeg van sonde in ons lewe gee nie (1 Kor. 5:6-8), want dit sal ons verhouding met die Here Jesus vertroebel.
Sommige mense vergeet dat Christus die sentrale fokus van hulle lewe moet wees, en put dan hulle inspirasie uit ’n sekondêre geestelike bron. Een van die sienings wat van ons verhouding met die ware wynstok afwyk, is diegene wat in terme van die beeldspraak in Romeine 11:16-24 meen dat hulle as gelowiges in Israel ingeënt is. In plaas van om meer soos Christus te word, word hulle meer soos Israel. Hulle verwys na hulleself as die geestelike (of ware) Israel, onderhou Ou-Testamentiese wette, vier Joodse feeste op ’n ortodoks Joodse manier, en leer soveel as moontlik Hebreeuse woorde aan om in hulle godsdiensoefeninge te gebruik.
Wat die beeld van die olyfboom in Romeine 11 betref, moet daarop gelet word dat dit in werklikheid net die takke is wat Israel voorstel. Hulle is weens ongeloof afgekap, en ons is beslis nie in hulle ingeënt nie! Israel het uit God ontstaan, daarom is die wortels van die olyfboom God self wat die belofte van die Messias aan Israel toegesê het. Die Here Jesus het gesê: “Ek is die wortel en geslag van Dawid” (Op. 22:16). Hoewel Hy as mens uit die geslag van Dawid gebore is, is Hy ook die wortel, of oorsprong van Dawid en Israel as die uitverkore volk.
Abraham, as die stamvader van Israel, is ook net belangrik omdat hy ’n geloofsverhouding met God as sy geestelike wortel gehad het: “En hy [Abraham] het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken” (Gen. 15:6). Die groot geheim vir Israel en die nasies is nie die Joodse volk wat van Abraham afstam, asook al hulle wette en rituele nie, maar die Messias wat uit hierdie volk gebore is. Jesus is die saad van Abraham, daarom het Hy vir die Jode gesê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Dit is die rede waarom die Here aan Abraham gesê het: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 12:3). Die Messias, wat die Verlosser van die hele wêreld is, sou uit Israel gebore word. Paulus verwys na die groot betekenis van die kruisdood van die Messias, “sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang” (Gal. 3:13-14).
Christus is die bron van alle seëninge – nie Israel en hulle wette nie. Omdat Israel Hom verwerp het, is hulle oor die aarde verstrooi. Eers wanneer hulle met Hom herenig is, word hulle weer in die olyfboom waarin ons reeds is, teruggeënt (Rom. 11:23-26). Dan sal hulle in die Messias ’n seën vir die hele aarde wees (Rom. 11:11-12). Ons moet dus nie nou soos Israel probeer wees nie, maar slegs in die voetspore van die Messias volg. Ons moet hulle jaloers maak op die manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias dien.
Die groot uitdaging
Ons kom almal voor ’n groot uitdaging te staan om veral te midde van die groot verval van die eindtyd getrou aan die Here Jesus en sy Woord te bly. Daar is twee uitstaande kenmerke van ware dissipels, en die Here self sal hulle daarvoor eer: “Jy het my Woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8). Ken ons werklik die Nuwe-Testamentiese verlossingsleer en leef ons as ware bevrydes van Christus, of plaas ons dalk weer ’n juk van wettisisme op onsself? Paulus sê: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Gal. 5:1). Donald Campbell (1983:604-605) sê die volgende oor hierdie teks:
“Paulus het die lewe van Christelike vryheid verdedig. Sou die apostel se leerstelling die Galásiërs tot wetteloosheid of godvresendheid aanspoor? Die Christelike lewe word beskryf as ’n lewe afgesonderd van die wet en van bandeloosheid, en diensbaar aan God deur die Heilige Gees. Galásiërs 5:1 som hoofstuk 4 op, waarvan die tema gebondenheid en vryheid is. Dit dien ook as ’n inleiding tot hoofstuk 5. Paulus sê dat Christus die groot Bevryder is wat gelowiges van hulle gebondenheid verlos. Hy gaan dan voort om die Galásiërs te vermaan om vas te staan in daardie vryheid, want nadat hulle van slawerny aan die heidendom bevry is, was hulle in gevaar om hulleself te onderwerp aan slawerny aan die Mosaïese wet.”
Verstaan ons werklik wat dit beteken om as bevrydes van die Here die weg van volle verlossing te bewandel? Dit moet hoegenaamd nie met bandelose vryheid verwar word omdat ons nie in ’n verpligting teenoor die wet staan nie. Ons word deur die Heilige Gees gelei en in staat gestel om in die voetspore van Jesus volg: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6; vgl. 1 Pet. 2:21).
Jesus Christus het die wet volmaak vervul en nog ’n veel hoër standaard van heiligheid en diensbaarheid gestel as wat die wet vereis. Wanneer hy ons Leidsman en die voleinder van ons geloof is, is ons ver verby die skaduagtige bepalings van die wet, wat niks meer as net ’n aanloop tot die openbaring van Christus was nie (Kol. 2:16-17). Die groot doel van ons lewe moet wees om Hom beter te ken, asook die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ons aan sy dood gelykvormig word (Fil. 3:10).
Om saam met Christus vir die wêreld en die sonde te sterf, is die Goddelike weg tot heiligmaking. Ou-Testamentiese sabbatte, feesdae en Hebreeuse name kan geen bydrae lewer om sy heiligheid deelagtig te word nie. Kom ons maak ’n meer intensiewe studie van Hom in wie alle skatte van wysheid en kennis verborge is (Kol 2:3). Die kruis moet altyd sentraal staan in ons geestelike lewe en ons moet daarin roem (Gal. 6:14). Paulus sê: “Ons verkondig Christus wat gekruisig is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke” (1 Kor. 1:23). Ons moet na Hom toe gaan waar Hy buitekant die laer van Judaïsme staan, en onbeskaamd met Hom identifiseer as die enigste Verlosser van die wêreld (Heb. 13:13).
Jesus Christus het self vir die redding van ’n verlore mensdom gebid: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enigste waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Joh. 17:3). Geloof in Hom maak die verskil tussen die duisternis van misleiding en die lig van God se teenwoordigheid.
Bronne
- Barbieri, Louis A. Jr., 1983 : Matthew. In: Walvoord, John F. & Zuck, Roy B. (reds.) The Bible Knowledge Commentary: New Testament. Victor Books.
- Buksbazen, Victor. 1954. The gospel in the feasts of Israel. Church Mission to the Jews, Londen.
- Campbell, Donald K., 1983 : Galatians. In: Walvoord, John F. & Zuck, Roy B. (reds.) The Bible Knowledge Commentary: New Testament. Victor Books.
- Grassmick, John D., 1983 : Mark. In: Walvoord, John F. & Zuck, Roy B. (reds.) The Bible Knowledge Commentary: New Testament. Victor Books.
- Hannah, John D., 1985 : Jonah. In: Walvoord, John F. & Zuck, Roy B. (reds.) The Bible Knowledge Commentary: Old Testament. Victor Books.
- Hodges, Zane C. 1983 : 1, 2 & 3 John. In: Walvoord, John F. & Zuck, Roy B. (reds.) The Bible Knowledge Commentary: New Testament. Victor Books.
- Malan, J.S. 2012a. Jesus Christus en ons lewe in Hom: ’n sistematiese, evangeliese leerstelling oor die Persoon en werke van Jesus Christus. Lux Verbi Uitgewers, Kaapstad.
- Malan, J.S. 2012b. Die sewe feeste. Lux Verbi Uitgewers, Kaapstad.
- Malan, Johan S. 2008. Die Joodse Sabbat en die Christelike Sondag. http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Sabbat.htm
- Schepers, J.M., 1984 : Die kruisigingsdatum van Jesus eeue tevore geprofeteer. Die Basuin, Vol. 1 No. 2:7-10.
- Strong, James, 1990 : The New Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible. Thomas Nelson Publishers.
- Toussaint, S.D., 1983 : Acts. In: Walvoord, John F. & Zuck, Roy B. (reds.) The Bible Knowledge Commentary: New Testament. Victor Books.
Prof. Johan Malan