Wanneer is Jesus se Geboorte vir die Eerste Keer Gevier?


Die engel het vir die herders op die oop velde te Bethlehem gesê: “… vir julle is vandag in die stad van Dawid gebore die Saligmaker wat Christus, die Here, is” (Luk 2:11). Van watter dag het die engel gepraat? Ek bedoel nie of dit ʼn Sondag of Maandag was nie, maar watter dag van die JAAR was dit? Met ander woorde, op watter datum is Jesus gebore?

Ons is gewoond daaraan dat Sy geboorte op 25 Desember gevier word. Munisipaliteite bring spesiale Kersligte aan; besighede benut die geleentheid deur die dag te kommersialiseer en families tref allerlei reëlings om die dag saam deur te bring. Groot etes word gereël asook spesiale kerkdienste en die wat enkel en alleen is, voel die dag net nog eensamer as ooit.So ken ons 25 Desember as ʼn besondere dag op die kalender, maar tog ʼn dag gehul in kontroversie. Kontroversie veral oor die ontstaan van die dag terwyl baie dit afmaak as die viering van een of ander heidense geleentheid. Wat is die waarheid omtrent die 25e Desember? So lank as wat ek kan onthou hoor ek elke jaar iewers ʼn verduideliking van waar die gebruik om Kersfees op 25 Desember te vier, vandaan sou kom. Na al die jare moet ek eerlik sê dat ek nie kan onthou dat ek al ooit dieselfde verduideliking twee keer gehoor het nie. Nou wat is die waarheid omtrent hierdie dag en datum? Mag ʼn kind van die Here vir iemand anders sê: “Geseënde Kersfees”?

Die vraag is: Hoe vier ʼn kind van die Here die verjaarsdag van die Here Jesus? Is 25 Desember die regte dag, of is daar waarheid in die storie dat dit ʼn heidense dag is wat soos die pes vermy moet word?

Vergun my bietjie om te verduidelik hoe dit gekom het dat die viering van Jesus se geboortedag op 25 Desember val. Baie van die inligting kom uit ʼn artikel deur Andrew McGowan oor How December 25 Became Christmas (Biblical Archaeology Society, 12 Desember 2018).

Soos Dr. Randall Smith in 7 Days That Changed The World verduidelik, het die Jode in Jesus se tyd nie ʼn persoon se geboortedag gedenk nie, maar sy lewe is jaarliks gedenk op die dag waarop hy gesterf het. Daarom is daar aanvanklik nie veel gemaak van die geboortedatum van Jesus nie. Ons sal netnou sien waarom hulle nie veel aandag aan ʼn persoon se geboortedatum gegee het nie. As gevolg daarvan vind ons dat gedurende die eerste twee eeue na Christus se geboorte kerkvaders soos Irenaeus, Tertullianus en Origenes die viering van verjaarsdae afgemaak het as gebruike van die heidene. Hulle was onbekend met die Westerse tradisie om ʼn persoon se verjaarsdag te vier. So is daar tot sover bekend nog geen bewyse gevind dat Jesus se geboorte gedurende die eerste twee eeue gevier was nie.

Hierteenoor was dit egter duidelik dat sy sterfdag, wat later bekend geword het as “Goeie Vrydag”, wel gedurende hierdie tyd jaarliks op 15 Nisan, soos die verskillende evangelies dit aangee, gedenk is. Nisan is die Hebreeuse maand wat gedeeltelik ooreenstem met die tyd van Maart tot April op ons kalender met 15 Nisan wat ooreenstem met 25 Maart. Ons kom later terug na die belangrikheid van hierdie datum.

Soos die Evangelie aan die nasies verkondig is en meer en meer heidene tot geloof in Jesus gekom het, het daar ook wat betref die viering van Jesus se verjaarsdag ʼn wending gekom. Daar is sedert ongeveer 200 n.C. aanduidings dat daar datums begin ontstaan het waarop kinders van die Here ook Jesus se geboorte gedenk het. Teen 300 n.C. was daar twee duidelike datums waarop gelowiges gereeld sy geboorte herdenk het. Die een was 25 Desember wat in die westerse Romeinse Ryk gegeld het en die ander was 6 Januarie wat weer in die Ooste, veral Egipte en Klein Asië, gebruik is. ʼn Gebruik wat vandag steeds op hierdie datums in die onderskeie wêrelddele geld. Wat ons dus weet is dat teen ongeveer 300 jaar na Jesus se geboorte sy verjaarsdag op hierdie datums in die middel van die winter gevier is. Maar hoe het hierdie Christene, wat erg onder vervolging gelei het, by hierdie datums uitgekom?

Vandag is daar twee teorieë daaroor waarvan die bekendste die is dat die Christene die datum van ʼn heidense fees oorgeneem het. Die Bybel Kommentator Dionysius bar-Salibi het in die 12e Eeu geskryf dat Kersfees spesiaal van 6 Januarie af verskuif was na 25 Desember sodat dit op dieselfde datum sou val as die heidense Sol Invictus vieringe waarby die Saturnalia fees ingesluit was. Die Romeine het hierdie feeste met die “herlewing” van die son op die kortste dag van die jaar altyd op 20, 21, 22 of 23 Desember gevier. Wanneer die dae al korter geword het, het die bygelowige Romeine gereken dat hul god swakker en siekliker geword het. Wanneer die dae dan weer langer geword het, het hulle geglo dat die “god” weer begin herstel het. Hulle het dan die “herlewing” van die “god” op die kortste dag van die jaar met groot feesvieringe gedenk. Die Romeinse keiser Aurelian het egter in 274 n.C. die datum van die feesdag vir die geboorte van die Onoorwonne Son ʼn paar dae aangeskuif en op 25 Desember vasgestel. Bybelse geleerdes in die 18e en 19e Eeu het op grond van hierdie kennis en in navolging van Dionysius bar-Salibi se opmerking gesê dat, omdat die vroeë Christene nie geweet het op watter dag Jesus gebore was nie, hulle die heidene se sonstilstand vieringe op 25 Desember oorgeneem het.

Daar is dan beweer dat die vroeë Christene destyds die dag gekies het as Jesus se geboortedag om sodoende die Christendom reg deur die Romeinse Ryk te kon versprei. Die rede sou wees dat as Kersfees soos ʼn heidense vakansiedag gevier sou word, meer heidene aangetrokke sou voel tot die God wie se geboorte gevier word.

Andere soos byvoorbeeld die historikus, Will Durant, wat self nie ʼn gelowige is nie, laai natuurlik weer die skuld daarvoor op die Rooms Katoliek Kerk. Dit is wel so dat daar sommige heidense gebruike mag wees wat mettertyd deel geword het van die wyse waarop Kersfees gevier word. Dit was egter eers later in ongeveer 600 n.C. onder aanvoering van Pous Gregory die Grote dat baie van die elemente van die heiden feeste vermeng is met die Christen feeste. Baie van die heidense elemente by ons Christen feeste vandag het dus hul oorsprong in die Rooms Katolieke Kerk. Maar is dit die Rooms Katolieke Kerk wat begin het om Kersfees op 25 Desember te vier? Navorsing toon dat teen die tyd toe Keiser Konstantyn die Christelike geloof as deel van die Romeinse staatsgodsdiens verklaar het, die gebruik om Kersfees op 25 Desember te vier, alreeds onder die Christene gevestig was.

Tot en met die ontstaan van die Roomse Katolieke Kerk was die Christene gewelddadig en wreedaardig vervolg veral deur Keiser Konstantyn se voorganger, Keiser Diocletianus (303-312 n.C.). Hulle is selfs tot vermaak van die skares in arenas vir wilde diere gegooi. Dit was nie ʼn tyd vir Christene om die Romeine deur ʼn kompromis met die vieringe van hul songod te probeer “beïndruk” nie.

Soos McGowan sê: “… die eerste verwysing na ʼn datum vir Kersfees (ong. 200 n.C.) en die vroegste Kersvieringe waarvan ons weet (ong. 250-300 n.C.) was in ʼn tydperk toe Christene nie maklik iets van die heidense tradisies oorgeneem het nie, veral nie iets van so ʼn duidelike aard nie.” Hy vervolg deur te sê: “… ons het geen bewyse dat Christene gerurende die 3e Eeu enigiets van heidense feeste oorgeneem het nie, terwyl die datums vir Kersfees toe alreeds vasgestel was. Gevolglik blyk dit hoogs onwaarskynlik dat die datum gekies sou word om met die heidense sonsvererings fees saam te val.”

Nou waar het die vervolgde Kerk dan die gebruik om Kersfees op 25 Desember te vier vandaan gekry? Dit was ʼn baie interessante ontwikkeling. Iets wat ʼn mens beter kan verstaan as jy so ʼn klein kykie kan kry in die wyse waarop die Jode dinge destyds beredeneer het. Iets wat baie vandag nog steeds beoefen. Ek onthou nog goed hoe ek en Marina as studente die voorreg geniet het om te kon luister na hoe die bekeerde Romeense Jood, Pastoor Richard Wurmbrand, sit en praat het. Na die 14 jaar van oponthoudelike fisiese en geestelike foltering kon hy nooit weer staan en preek nie. Daarom het hy gesit en preek. Ons was op ʼn kampterein waar ons vir ʼn hele paar dae na hom en sy vrou kon luister. Hy sou so sit en dan begin hy om ʼn storie te vertel. Dit sou iets Bybels wees maar ingeklee met ʼn perspektief uit die Joodse tradisies. Telkens egter het hy ons verras deur dinge by mekaar uit te bring wat ons met ons Westese logika nooit so sou kon doen nie. Tog het dit telkens ʼn duidelike boodskap of ʼn gevolgtrekking gehad wat ʼn diep indruk gelaat het.

Hy sou met iets begin en wanneer hy by die slotsom van sy boodskap kom, dan verras hy mens deur dit te eindig met dit waarmee hy begin het. Dit was asof hy ʼn gedagte neem en dit deur ʼn siklus laat gaan tot dit ʼn volle kringloop gemaak het. Iemand het na die manier van vertel vewys as “ʼn ringskomposisie”. Dit is ʼn gebruik wat ʼn mens, wanneer jy die Bybel in die oorspronklike Hebreeus of Grieks lees, dikwels sien. In die Afrikaanse Ou Vertaling van 1953 sien mens dit net so maklik raak.

ʼn Goeie voorbeeld van ʼn ringskomposisie is Petrus se behandeling van die begrip “wedergeboorte” in 1 Petrus 1 waar hy die begrip van vers 3 tot vers 23 behandel.

Vir ons met ons logiese Grieks-Westerse denkwyse werk dinge egter “liniêr.” Ons dink in reguit lyne en in terme van oorsaak en gevolg. Wanneer ons tien kinders het waarvan een aangewys word as die eerste in die groep en ʼn ander as die laaste, dan sien ons hulle as in ʼn reguit lyn waarvan die een aan die een punt die eertste is. Die een aan die ander punt van die “lyn” is die laaste. Wanneer ons dan in die Bybel lees dat Jesus “die eerste en die laaste” is (Open 2:8), verstaan ons nie veel van wat dit eintlik beteken nie, want ons dink nie in Midde-oosterse terme nie. Wanneer jy egter die tien kinders in ʼn kring sou laat sit, wie is dan die eertste en wie is die laaste? Sien u; Wanneer hulle in ʼn kring sit, verander die dinamiek van die betekenis van “eerste” en “laaste” geheel en al.

So ook, wanneer Jesus sê: “Ek is die Alfa en die Omega (die A en die Z in ons alfabet), die begin en die einde …” (Open 1:8), dan weet ons nie wat Hy bedoel nie. Dit is vir Westerlinge niksseggend. Maar Jesus voltooi sy sin deur te verduidelik: “… wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” Wanneer ʼn mens die begin en die einde by mekaar bring deur nie liniêr daarna te kyk nie, maar soos in ʼn ring waar die eerste en die laaste ast’ware oorvleuel, dan verander die begrip heeltemal. Dan verstaan ons hoe dit kan wees dat Hy wat nou “is”, eers “was” en steeds aan die “kom” is.

So byvoorbeeld het die mense in die Bybelse tyd ʼn persoon se lewe gesien as ʼn sirkel wat voltooi moes word. Vir die Westerling begin die lewe met ʼn person se geboorte en eindig dit wanneer jy sterf. Vir die Jode begin dit egter met die bevrugting van ʼn embrio in die moederskoot en word die lewe voltooi wanneer hy sterf. Daarom is die geboortedatum as sodanig nie vir hulle belangrik nie. Die persoon bestaan dan alreeds vir 9 maande en is besig om voort te leef. Verder sien hulle die lewe van ʼn mens as ʼn voltooide sirkel. As ʼn siklus wat met sy bevrugting begin en in sy dood volle wasdom bereik. Die dag waarop lewe begin is vir hulle dieselfde as die dag waarop dit eindig. So is dit ook, vreemd soos wat dit vir ons mag voorkom, dat die datering van Jesus se geboorte deur die eerste Joodse Christene terug gevoer is na die datering van sy bevrugting en dood. ʼn Herinnering daaraan dat Sy bevrugting die belofte ingehou het van die verlossing deur sy dood.

En wanneer was dit? Ons het vroeër gesien dat dit op 15 Nisan of dan 25 Maart was! Nou kan u vir uself die som maak: As die Heilige Gees Jesus op 25 Maart in Maria se skoot bevrug het, op watter datum was die Seun van God nege maande later gebore?

Al probleem daarmee is dat sy geboorte te Bethlehem dan te middde van die koue wintermaande sou wees waar hulle die skape snags in die agterste deel van die huis gehou het. (Sien Dr Randall Smith se DVD’s Psalm 23 – The Shepherd And His Sheep en How Jesus Grew Up – A Visist To Nazareth). Die engel het sy geboorte aan die herders in die oop herdersvelde te Bethlehem aangekondig (Luk 2:8). Dit moes dus gedurende die lang somermaande gewees het wanneer die herders die skape in die woestyn tussen Bethlehem en Jerigo laat wei het. Hulle het dan weke lank stadig met hul kuddes in die veld rond getrek.

Hierdie inligting is vir ons relevant sodat ons kan weet dat Hy nie werklik op 25 Desember gebore was nie, maar in die somer. Dit is egter geen probleem vir die vroeë Christene wat geglo het dat Hy as die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste se lewe begin en geëindig het op 15 Nisan nie. Alhoewel ons weet wanneer Hy gesterf het, weet ons nie regtig wanneer of op watter dag van die jaar Hy gebore is nie. Die belangrike is egter dat Hy gebore is en dat Hy op 15 Nisan die Hoogste offer vir ons aan die kruis gebring het deur daar met sy bloed vir ons sondes versoening met sy Vader te bewerk.

Die kinders van die Here het dus nie die heidene se fees gekaap nie. Maar hoekom het Keiser Aurelian in 274 n.C. die viering van die “herlewing” van die Romeinse songod verskuif? Die kortste dag in die Noordelike halfrond is nie elke jaar op dieselfde dag nie, maar wissel tussen 20, 21, 22 en 23 Desember. Waarom het hy dit dan bepaal vir 25 Desember? Was dit moontlik deel van sy strategie in sy vervolging van Jesus se volgelinge dat hy die dag waarop hulle sy geboorte gevier het, gekies het? Ons weet nie, maar wanneer ons eersdaags voor die regterstoel van die Here Jesus gaan verskyn en ons alles duidelik sal verstaan, dan sal ons self ook hieroor duidelikheid kan verkry.

Wat ons wel weet is dat ons voorgangers nie 25 Desember gekies het as ʼn kompromis nie, maar omdat hulle sy geboorte wou gedenk om Hom te dank dat Hy een met ons geword het sodat Hy namens ons kon sterf en so die straf vir ons sondes kon dra.

Hoe seker is ons van hierdie feite? Wel, wat ons verseker weet is dat die daar Christene in die vervolgde kerk was wat reeds sedert 200 n.C. begin dink het oor wanneer dit Jesus se geboortedag sou wees. Dit blyk dat soos wat al hoe meer heidene wat gewoond was daaraan om verjaarsdae te vier, tot geloof in Jesus gekom het, daar by hulle die behoefte ontstaan het om ook sy geboortedag te gedenk. Hulle het dus ‘n geleentheid gesoek om vir Hom dankie te sê dat Hy ‘n mens geword het en in ons plek kom sterf het. Ons weet ook dat daar aanduidings is dat sedert 250 n.C. hulle sy geboortedag op 25 Desember gevier het.

Ten minste was dit defnitief reeds voor die ontstaan van die Rooms Katolieke Kerk op 25 Desember gevier. Ons weet dus dat dit nie iets is wat deur die Rooms Katolieke Kerk begin is nie. Wat ons wel weet is dat daar allerlei heidense gebruike deur die Kerk van Rome by die feeste en gebruike van die Kerk gevoeg is, ook by die wyse waarop Jesus se geboorte gevier word. Waar ons bewus word van iets wat heidens of Rooms is, is dit vir ons om dit te onderskei en te bid vir wysheid.

Ons mag moontlik nie direk met iets Rooms gekonfronteer word nie, maar oral waar ons met Kersfees te doen het, is dit asof die wêreld en daarmee saam ook baie ongeredde mense, Kersfees vier asof dit hul dag is.

Ons moet net daarteen waak dat ons nie optree op ʼn lelike bakleierige manier wat mense eerder afskrik en wegdryf van die Here Jesus nie. Ongelukkig is dit so dat ons as kinders van die Here geneig is om te oorreageer teen iets wat ons besef verkeerd is. So ‘n optrede is dikwels nie ‘n goeie voorbeeld van die lewe van die Een wat die hemelse heerlikheid verlaat het om verlossing vir die verlore mens te kom bewerk nie.

Ek glo dat iemand wat deur die genade van die Here Jesus Christus die gawe van die ewige lewe ontvang het, nooit anders kan as om elke moontlike geleentheid te benut om daardie lewe ook na elke ander persoon waarmee hulle in aanraking mag kom, deur te gee nie. Daarom is dit nodig om altyd te bid vir die nodige wysheid van hoe om op te tree.

Glo jy in die Jesus wat uit ‘n maagd gebore is deur die werking van die Heilige Gees? Indien nie, wil jy nie ook jou knie buig voor die Jesus kind wat in hierdie wêreld onder ons gebore is om met sy bloed aan die kruis vir elkeen van ons te betaal nie? Wil jy nie vir Hom dankie sê vir die offer wat Hy gebring het en vir Hom vra om jou te was in sy bloed nie.

Indien jy wel in Jesus glo, weet verseker dat jy net soos die vervolgde Christene in die Derde Eeu Jesus se geboorte met ‘n rein gewete op 25 Desember kan gedenk en Hom kan dank dat Hy die heerlikheid van sy Vader se huis verlaat het sodat Hy jou ook saam met Hom kan neem om ook aan jou sy heerlikheid te toon (Joh. 17:24).

Dankie vir jou gebede en ondersteuning die afgelope jaar. Mag jy inderdaad ʼn geseënde Christusfees geniet.


Reference: Naas en Marina le Roux, Kerugma Produksies 


 

Feel free to share: