‘N KORT DOOPKATEGISMUS

Wat beteken die doop?  Die doop – saam met die nagmaal – is ‘n uitdruklike en formele instelling van Jesus Christus vir al Sy dissipels. Dis ‘n genademiddel waardeur die Here ons geloof versterk en ons verhouding met Hom verseël. As sulks is dit ‘n uiters gewigtige handeling wat met alle erns ondergaan en bedien moet word. Geen Christen het die vryheid om dit na te laat nie. Wanneer ‘n gelowige hom (of haar) in water laat doop, is dit sy antwoord op God se reddingsinisiatief in sy lewe. Dis ‘n openbare belydenisaflegging. Dis ‘n formele toetrede tot ‘n lewe van dissipelskap. Dis ‘n verbondsvasmaking. Die doop spreek van bekering tot, geloof in en toewyding aan Jesus Christus. Dit getuig van ‘n opregte voorneme om die rug finaal te draai op die prioriteite, waardes en weë van hierdie gevalle wêreld; van ‘n omhelsing van die erfenis wat Christus se dood en opstanding verseker (veral die afwassing van sonde en die nuwe lewenseenheid met Hom); van onderwerping aan Sy Koningskap; van toetrede tot Sy gemeente met die voorregte en verantwoordelikhede wat daarmee saamhang; van die voorneme om ‘n nuwe lewe in die krag van die Gees te leef.

 

Is dit belangrik om my te laat doop? Ek is mos reeds gered. Ons verkondig nie die doop nie, maar Christus (1Kor 1:17). En nooit kan die doop die grond van redding wees nie. Dit beteken egter nie dis onbelangrik nie. Is die ander sakrament – die nagmaal – onbelangrik? Ook heiligmaking is nie saligmakend nie, maar daarsonder sal niemand die Here sien nie (Han 12:14). Die Here Jesus is self gedoop en stel sodoende ‘n voorbeeld vir almal wat Hom volg (Mat 3:13-17; Mar 1:9-11; Luk 3:21-22). Wat Sy eie doop betref, sê Hy uitdruklik dat Hy dit in gehoorsaamheid aan God se wil doen (Mat 3:15). Verder doop Hy (of laat Hy doop) almal wat as dissipels by Hom aansluit (Joh 3:22, 26; 4:1-2). Les bes is die doop ‘n integrale deel van die groot opdrag wat Christus voor Sy hemelvaart aan Sy dissipels gee (Mat 28:18-20; Mar 16:15-16). Die Here se opdrag is onbetwisbaar duidelik. Die persoon wat sê hy is ‘n Christen, maar ‘n traakmy- nie-agtige houding t.o.v. die doop inneem, is dus huigelagtig en ongehoorsaam. En volgens die Skrif plaas volgehoue ongehoorsaamheid ernstige vraagtekens oor die egtheid van iemand se redding. Ware Christenskap kan nooit geheim bly nie. Dit móét bely word. Skaam jou vir Christus, en Hy sal Hom vir jou skaam (Mar 8:38; Mat 10:32-33). Natuurlik is die doop nie die enigste manier om Hom te bely nie, maar dis die één manier wat Hy baie uitdruklik en formeel ingestel het. As iemand nie eers kans sien vir hierdie eerste en openlike ‘commitment’ nie, hoe op aarde sal hy volhard in ‘n lewe van heilige toewyding en gehoorsaamheid? Laat ons nie met vuur speel nie. Talle Ou Testamentiese uitsprake toon dat God geringskatting van die verbondsteken met skrikwekkende gestrengheid beantwoord het. Waarom sou dit in die Nuwe Testament anders wees? Dit onderstreep die gewigtige verantwoordelikheid wat op elke Christen rus om hierdie saak volwasse en Bybels uit te maak.

 

Ek is as baba gedoop. Is dit nodig om my weer te laat doop? En sal dit nie sonde wees indien ek dit laat doen nie? Alles hang af van die vraag: watter doop het die Here Jesus ingestel – die belydenisdoop of die kinderdoop? Indien die kinderdoop, is dit inderdaad ‘n belangrike vraag. Die doop is immers vanuit sy aard ‘n eenmalige saak. Maar as Hy die belydenisdoop ingestel het, verander dit alles. Dan is iemand wat net as baba besprinkel is, in werklikheid nog nie gedoop nie. Dan is die regte vraag: is dit sonde as ek met die menslike instelling volstaan – ten koste van die Bybelse doop? Nee, gehoorsaamheid aan ‘n uitdruklike opdrag van Christus kan nooit sonde wees nie! En dit beteken ook nie jy minag jou ouers of bevraagteken hulle destydse opregtheid nie. Al wat jy doen is om jou los te maak van ‘n tradisie sonder Skrifmandaat en om jouself in integriteit Bybelsprinsipieel te herposisioneer.

Wat van die huisgesindope in Handelinge? Is babas nie van die begin af gedoop nie? Mens moet onthou dat die bepaalde Griekse woord nie bloot op ‘n gesin – ouers en kinders – dui nie. Dit sluit die hele huishouding in; dus ook grootouers, bediendes en slawe.

  • Cornelius en sy huishouding (Han 10:30-33; 44-48; 11:13-18). Al verwysing na Cornelius se mense is in 11:14, en hier word gepraat van redding, nie van doop nie. Die gedeelte is glashelder dat diegene wat wel gedoop is, gretig na Petrus geluister het (10:33,44); vervul is met die Heilige Gees (10:44-47; 11:15-17); tot bekering gekom het (11:18).
  • Lidia en haar huishouding (Han 16:14-15; 40). Hier is geen uitspraak oor die teenwoordigheid van begrip of geloof al dan nie. Die moontlikheid van ‘n suigelingdoop is dus nie sonder meer uitgesluit nie. Dis egter ‘n ope vraag of daar babas sou wees. Die feit dat sy ‘n sakevrou van elders was en vreemde mans in haar huis ingenooi het, laat die indruk dat sy nie getroud was nie – en waarskynlik ook nie meer jonk nie. Was die ‘gelowiges’ wat Paulus en Silas later in haar huis gesien en bemoedig het (40) nie dalk lede van haar huishouding nie? Hier is te veel onsekerhede vir enige klinkklare gevolgtrekking.
  • Die tronkbewaarder van Filippi en sy huishouding (Han 16:29-34). Die evangelie is aan al die mense in die huishouding verkondig (32), en nadat hulle gedoop is, was hulle vol blydskap, omdat hulle geglo het (34). Crispus en sy huishouding (Han 18:8). Hulle het almal tot geloof in die Here gekom, en was waarskynlik onder die gelowiges wat daarna gedoop is.
  • Stefanas van Korinte en sy huishouding (1Kor 1:16). In 1Kor 16:15 lees ons van
    waarskynlik dieselfde huishouding – en wel dat hulle bekeerlinge was en hulleself tot diens van die gelowiges gestel het.

Dis onmoontlik om die kinderdoop op hierdie gevalle te baseer. Met een uitsondering (Lidia) is daar elke keer uitsprake wat toon dat diegene wat gedoop is verantwoordelike mense was – wat die Woord kon hoor, verstaan en glo. Hulle is vervul met die Heilige Gees, het hulle verbly in die Here en kon hulle aan dienswerk wy. En wat Lidia betref (Han 16:14-15): geen leerstuk kan gebou word op die stilswye van die Skrif nie.

Wat sê die vroeë kerk se geskiedenis? Histories is dit ‘n uitgemaakte saak dat die Nuwe Testamentiese kerk nie babas gedoop het nie. Dis alombekend dat die doop van suigelinge eers teen die einde van die derde eeu ontwikkel het.(1) Dit het ten nouste saamgehang met twee ander onbybelse ontwikkelings: die versmelting van die verhouding tussen kerk en staat, asook die sakramentalisme(2) wat uiteindelik tot die Rooms Katolieke sisteem sou lei
Vereis die genadeverbond nie die kinderdoop nie? Daar is nie ‘n enkele Skrifuitspraak wat dit uitdruklik beveel nie!(3) Sekerlik loop die tema van die verbond soos ‘n goue draad regdeur die Bybel. Sekerlik was die besnydenis van babaseuns die Ou Testamentiese verbondsteken. En sekerlik is daar ‘n wonderlike aaneenlopendheid (kontinuï teit) tussen Ou en Nuwe Verbond. Maar daar is ook ‘n uiters belangrike diskontinuï teit (Han 8:7-13). In die Ou Testament was die Godsvolk ‘n nasionale grootheid wat deur natuurlike aanwas gebou is. Maar die Christelike gemeente word gebou deurdat individue vanuit alle nasies wederbaar word. Deur geloof alleen word ons met die Saad van Abraham, Jesus Christus, verenig – en gevolglik deelgenote van die genadeverbond (Gal 3:6-7, 16, 28-29). Omdat die kinderdoop hierdie diskontinuï teit verwaarloos, word die gemeente veroutestamentiseer. Spoedig lyk so ‘n kerk net soos Israel van ouds – ‘n tragiese mengsel van gereddes en ongereddes. En die gevolg? ‘n God-onterende volkskerk!

Het die doop nie in die plek van die besnydenis gekom nie? In ‘n sekere sin, ja! Wat die besnydenis vir die Ou Verbond was, is die doop vir die Nuwe Verbond: teken van verbondsinlywing. Tydens die Ou Verbond is jy in die verbondsvolk in gebore (waarop die teken gevolg het); nou word jy in die gemeente van Christus in weergebore (waarop die teken moet volg).  Maar om die twee verbondstekens ongekwalifiseerd gelyk aan mekaar te stel, gaan Bybels nie op nie. In Han 21:17-23a lees ons dat die Jerusalemse kerk baie jare na Pinkster nog steeds hulle seuntjies besny het. Wat sê dit? Die Apostels het die vroeë kerk nié geleer dat die kinderdoop bloot die besnydenis vervang nie.

Wat van Hand 2:39 en 1Kor 7:14? 

  • In Han 2 is die belofte die gawe van die Heilige Gees. Wat Petrus dan wil beklemtoon – dis tog een van die Pinksterdag se groot boodskappe – is die universele strekking van die belofte. Dis nie net ‘n belofte vir diegene wat die uitstorting van die Gees beleef het nie; dis ook vir hulle kinders, die toekomstige geslagte. En dis nie net vir Jode nie; dis vir al die nasies.(4) Maar – en dis uiters belangrik – hoewel dit sonder onderskeid geld, geld dit nie sonder uitsondering nie. Dit geld net vir diegene wat reddend geroep sal word.
  • Die NAV se vertaling van 1Kor 7:14 is skandelik bevooroordeeld (vgl. OAV). In die konteks wil Paulus iemand wat tot die geloof gekom het ontmoedig om van ‘n ongelowige huweliksmaat te skei. ‘n Belangrike rede word in v.14 aangevoer. Om te heilig, beteken om af te sonder, om eenkant neer te sit. En om geheilig te wees, is om afgesonder te wees. Paulus sê dus vir die Christen: “Jou ongelowige eggenoot, asook jou kinders, is ‘opsygesit’ – hulle is besonder bevoorreg. Waarom? Die ongelowige leef heeldag saam met iemand wat die aangename geur van Christus versprei; en die kinders kan die evangelie van kleins af hoor! Moet dus nie loop nie – die Here wil jou in hulle lewens gebruik!” Hierdie vers wil dus niks oor die kinderdoop sê nie. Wat meer is, indien dit sou voorskryf dat ‘n baba op grond van een ouer se geloof gedoop moet word, sou konsekwentheid vereis dat die ongelowige eggenoot ook gedoop moet word. Beide is immers ‘geheilig’ (OAV).

Is dit nie omdat Handelinge in ‘n sendingsituasie afspeel dat dit net belydenisdope beskryf nie? So eenvoudig is dit nie. Hoeveel kinders is nie vir gelowige ouers gebore in die 3 dekades wat Handelinge beskryf nie? Meer nog, lank voordat die kinderdoop begin praktyk raak het, was die kerk tog al volledig gevestig in die wêreld van destyds.

Tas die sterk beklemtoning van elke gelowige se verantwoordelikheid om hom te laat doop nie God se soewereiniteit in redding aan nie? Die doop is nie redding nie; dis antwoord op redding. Dis ‘n publieke belydenis dat die Here in Sy soewereine genade op my lewe beslag gelê het – toe ek nog geestelik dood was. Veel eerder het die kinderdoop ‘n neiging tot voorbarige aansprake wat God se reddende inisiatief in gedrang bring.

Is die verskil tussen die kinderdoop en die belydenisdoop regtig so belangrik? Kan ons nie maar beide aanvaar nie? Die Doop is een van die twee formele instellings of sakramente van Christus. Dit op sigself maak die suiwer beoefening daarvan van die allergrootste belang. Vir enigeen wat in die vrese van die Here leef en ‘n hartstog vir Sy eer het, moet puntenerige gehoorsaamheid aan Hom immers voorop staan. Hierbenewens leer die kerkgeskiedenis ‘n duisend lesse oor die saak. Die belydenisdoop wáárborg nie Godvererende vrug nie – ook dit kan helaas verwring word. Maar die kinderdoop het ‘n tragiese spoor deur die eeue gelaat, te veel om op te noem. Die hartseerste is waarskynlik die talle volkskerke wat dit gebaar het – reusagtige denominasies wat nie eers naastenby aan Bybelse standaarde beantwoord nie. Daarenteen praat die Woord in die mees verhewe terme oor die sentrale en Godverheerlikende rol van die ware gemeente in die Here se raadsplan. Maar die uitlewing van hierdie grootse roeping hang ten nouste af van die kerk se suiwerheid en getrouheid. Dit het vanselfsprekend weer alles te doen met die gemeente se samestelling. En dít is waaroor die doop van gelowiges gaan! Nee, die twee dooppraktyke is onversoenbaar met mekaar. Hulle staan vir totaal uiteenlopende kerkbeskouings.

Kan gelowiges met verskillende doopstandpunte darem geloofsgemeenskap hê? Natuurlik! Wie van ons is sonder sy blindekolle? En red die Here eers mense wanneer hulle teologie volmaak is? Nee, mits ons deur ‘n ware geloof met Christus verenig is, mits ons saamstem oor die fondamentstene van ons geloof, en mits ons nederig en verdraagsaam bly, kan
ons in vele opsigte saamwerk en by mekaar leer. In elk geval móét ons mekaar liefhê! Ongelukkig was daar nie altyd sulke verdraagsaamheid nie. Ontelbaar baie is al verketter – en tienduisende moes ‘n marteldood sterf – nét omdat hulle hul laat doop het. Nee, Nuwe Testamentiese gelowiges moet ‘n hoë premie stel op andere se gewetensvryheid. Want nét die Heilige Gees – en nooit menslike dwang nie – kan iemand se hartsoortuiginge verander. Omdat baptiste so sterk hieroor voel, het hulle dan ook nog nooit in die geskiedenis kinderdopers vervolg nie.

Goed, ek sien in dat die belydenisdoop Bybels is, maar die Here het nog nie vir my gesê ék moet my laat doop nie. Die Bybel is God se afgehandelde en genoegsame spreke tot die mens. Om ‘n addisionele openbaring van God te verlang, veral oor iets wat so uitdruklik geskryf staan, is niks minder as arrogant nie. Moet Hy ook vir jou spesiaal kom sê dis nodig om heilig te lewe? Nee, God het klaar gepraat! Wat meer is, hoe beter jy begryp dat die Bybel die belydenisdoop leer, hoe minder verskoning het jy vir ongehoorsaamheid.


Ten slotte, die 1689 Baptistebelydenis, h. 29, oor die doop: 

  1. Die Doop is ‘n Nuwe Testamentiese verordening, ingestel deur Jesus Christus,(5) om vir die dopeling ‘n teken te wees van sy gemeenskap met Hom in Sy dood en opstanding, van sy lewenseenheid met Hom,(6) van die vergiffenis van sy sonde,(7) en van sy oorgawe aan God deur Jesus Christus om ‘n nuwe lewe te leef.(8)
  2. Slegs diegene wat uitdruklik getuig van bekering tot God, asook van geloof in en gehoorsaamheid aan ons Here Jesus Christus, mag gedoop word.(9)
  3. Die doop geskied in water(10) en word bedien in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees.(11)
  4. Onderdompeling van die dopeling in water is noodsaaklik vir die behoorlike bediening van hierdie verordening.(12) 

“En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.” (Han 22:16).


  1. Proff. H.F. Stander & J.P. Louw: Baptism in the Early Church, 1988, Didaskalia Publishers, P.O. Box 905-031, Garsfontein, 0042; p.166-169.
  2. Die beskouing dat reddende genade deur sekere godsdienstige seremonies vloei.
  3. Sommige poog om die kinderdoop op Kol 2:11-12 te begrond. Dis egter duidelik dat Paulus die belydenisdoop in gedagte het – want hy praat oor geestelike besnydenis, oftewel die wedergeboorte. 
  4. “Hulle wat ver is”, was ‘n Joodse manier om na die heidene te verwys (vgl. Efe 2:13, OAV).
  5. Mat 28:18-20
  6. Rom 6:3-5; Gal 3:27; Kol 2:12
  7. Mar 1:4; Han 22:16
  8. Rom 6:4
  9. Mat 3:1-12; 28:19; Mar 1:4; 16:15-16; Luk 3:3; Joh 3:22-23, 26; 4:1-2; Han 2:37-41; 8:12-13, 36-38; 9:18; 10:47-48; 16:14-15, 31-34; 18:8; 19:2-5; 22:16; Kol 2:11-13; 1Pet 3:21
  10. Mat 3:11; Joh 3:22-23; Han 8:36-39
  11. Mat 28:19
  12. Mat 3:16; Mar 1:9; Joh 3:23; Han 8:38-39; Rom 6:4; Kol 2:12

Nico van der Walt
webwerf http://www.reformed.org.za


 

Feel free to share: